Agri Hour
Australiese mark, China-aanvraag gee SA wolbedryf hupstoot─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:39 Fri, 16 Oct 2020
Heinrich Victor, bestuurder spesiale dienste van vesel by OVK, praat nou oor die nasionale wolveiling, wat vandeesweek in Port Elizabeth in die Oos-Kaap plaasgevind het. Dié verslag word moontlik gemaak deur OVK.
Besoek OVK se webtuiste by ovk.co.za vir meer inligting oor alle omvattende dienste vir die boer. OVK - saam bereik ons meer. Hier is Victor...
Sien onderstaande PODCAST
Die negende wolveiling van die 2020/21-seisoen het plaasgevind met die Cape Wools Merino-aanwyser wat met 8,6% gestyg het teenoor die vorige veiling en teen 'n skoonprys van R146,32 per kg gesluit het. Die Australiese EMI het met 9.3% versterk teenoor die vorige veiling. Die Rand het in die ooreenstemmende tydperk van die vorige veiling, 0,6% sterker verhandel teen die Amerikaanse Dollar en het ook met 0,8% versterk teenoor die Euro. Die grootste styging van 9,7%, was in die 22 mikron segment. Standard Wool SA het op hierdie veiling die grootste hoeveelheid bale gekoop, gevolg deur G.Modiano SA, Lempriere SA en Stucken & Co.
Hy sê daar is in totaal 7 642 bale aangebied, waarvan 93,9% verkoop is. Op die OVK-veiling is 2 417 bale aangebied waarvan 83,4% verkoop is. Die hoogste prys op die OVK-veiling, van R165 per kg, is behaal vir ‘n 1 baal lot AAFY van 15,8 mikron, uit die skeersel van die Diereproduksie Navorsing-trust by Caledon. Die koper was Standard Wool SA.
Volgens Victor kan vandeesweek se styging toegeskryf word aan die versterking van die Australiese mark en die hoër aanvraag vanuit China vir beter merinowol, wat tot 'n hoogs kompeterende mark gelei het. Die vooruitsig op die kort tot medium termyn, is dat die vraag uit China kan toeneem vanweë stimulasie in die ekonomie ná die Covid-19 pandemie. Wol ontvang in die makelaars se pakhuise was 5,1% laer teenoor die ooreenstemmende tydperk van die vorige seisoen. Volhoubaar gesertifiseerde (RWS), goeie gehalte merinowol, het weer eens goeie aandag geniet op die veiling en dit het gesorg vir gesonde kompetisie tussen kopers. Produsente kan gerus kennis neem hiervan en ook aanvaar dat dit 'n toekomsneiging is wat gekom het om te bly. Skakel gerus met OVK om u by te staan in die sertifiseringsproses.
Die volgende wolveiling is geskeduleer vir 21 Oktober, waar sowat 6 268 bale aangebied sal word.
OFM-nuus
