Agri Hour
#Afasa: 'Politici moenie boere verdeel'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:02 Mon, 19 Oct 2020
Verskeie belangegroepe en landbou-organisasies het 'n duidelike boodskap gehad buite die landdroshof in Senekal met die hofverskyning van twee verdagtes in verband met die moord op die jong Brendin Horner.
Horner is wreed vermoor op 'n plaas in die distrik waar hy gewerk het. Afasa se sekretaris-generaal, Nakana Masoka, wat self 'n Vrystaatse boer is, het tydens sy spreekbeurt Vrydag in Senekal, waar 'n groot groep mense by die AfriForum-punt in die dorp byeen was, gesê boere voel hulle is op hul eie aangewese. Hy het ook verwys na die Horner-moord wat gerespekteer moet word, sodat sy geliefdes die geleentheid het om afskeid te neem van hul geliefde Brendin. Hier is Masoka...
Sien PODCAST aan die einde van die blad
Masoka het ook gesê hyself is 'n slagoffer en loop deur onder veediefstal. Hy het in Maart vanjaar 17 beeste in Kroonstad in dié provinsie verloor. Hy het vertel dat die polisie sy verklaring afgeneem het en toe hulle hom weer besoek het, het die polisie die verkeerde verklaring gehad. Masoka het gesê die minister van polisie, Bheki Cele, moet seker maak dat die polisie hul werk doen en is nie deel is van sindikate wat boere se skape en beeste steel nie.
Hy het ook gesê daar is kinders van God en dit is nou tyd dat boere van die land asook die Vrystaat hande vat, want die kos op mense se tafels word deur boere geproduseer, ongeag of hulle swart of wit is.
Boere moet ook nie toelaat dat politici hulle verdeel en "speelgoed van hulle maak nie". Die regering moet 'n omgewing skep waarin boere kan werk en produseer. Hy het gesê boere moet uitgelos word, want hulle sal kos produseer en die land se ekonomie weer optel.
Hierdie klankgreep is geneem uit 'n video-opname van Landbou.com.
Intussen sal die borgtogverhoor van die beskuldigdes, wat teregstaan op die moord op Horner op 'n plaas in die Paul Roux-distrik in die Vrystaat, na verwagting op 20 en 22 Oktober voortduur. Die verdagtes bly in aanhouding.
OFM-nuus
