Agri Hour
#BrendinHorner: Erediens op plaas gehou om #Senekal te vermy─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:08 Mon, 19 Oct 2020
'n Groot groep mense, waaronder boere, was Vrydag byeen op 'n plaas tussen Senekal en Paul Roux vir 'n gewyde erediens.
Dit het plaasgevind terwyl alle oë gevestig was op gebeure in Senekal in die Vrystaat waar twee verdagtes in die landdroshof verskyn het in verband met die moord op die jong Brendin Horner op 'n plaas in dié distrik.
Mense van oor die land heen het na Senekal opgeruk, terwyl 'n groot groep mense op Borrie Erasmus, eienaar van Biddulphsberg, se plaas byeen was. Erasmus sê 'n erediens is op sy plaas gehou en dit is goed bygewoon deur gemeenskappe. Daar was lede van verskeie belangegroepe en landbou-organisasies. Erasmus sê hy het sy plaas beskikbaar gestel nadat hy genader is deur organiseerders, wat hoofsaaklik chaos met die hofverskyning in Senekal wou vermy. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Erasmus gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van die blad
Hy sê die hoofdoel van die samekoms op sy plaas was om soveel as moontlik boere uit Senekal te hou in 'n poging om onnodige konfrontasie te vermy. Dit was veral van belang met die rooi golf van EFF-ondersteuners wat ook in die dorp byeen was. Dié samekoms op Erasmus se plaas het 'n veilige omgewing geskep van mense wat die verrigtinge wou bywoon.
Erasmus sê dié erediens is gelei deur Hendrik de Beer, 'n boer wat verbonde is aan die Christen-sentrum. Sy boodskap het gehandel oor mense wat weer hul pad terug na die Here moet vind en Hy sal dan sorg. Mense moet nie te veel staatmaak op hulself nie. "Jy moet terugkom by die Here en dan sal jy geseën word."
Mense wat dié erediens bygewoon het, is gevra om hul geliefkoosde pet en hoed saam te neem. Hy sê De Beer het ook tydens die erediens gesê die gebeure het 'n punt bereik waar die stryd nou tussen Christene en die antichris is. Hulle moes hul name asook 'n boodskap in 'n pet skryf en dit is neergelê by 'n kruis op die plek op die plaas waar die jong Brendin Horner wreed vermoor is.
OFM-nuus
