On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Vrystaatse boere steun op veevoerskenkings ná wegholbrande

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:49 Wed, 21 Oct 2020

Vrystaatse boere steun op veevoerskenkings ná wegholbrande | News Article
FOTO: Verskaf

Duisende hektaar grasveld in die Hertzogville-, Boshof- en Dealesville-distrikte in die Vrystaat is in wegholveldbrande verwoes. Honderde stuks vee, wild en strukture op plase het in die slag gebly.


Dit word beskou as die mees verwoestende brande in dié distrik in die afgelope paar jaar met sowat 100 000 hektaar weiveld wat na raming afgebrand het. Daar is nou 'n groot behoefte aan veevoer vir diere wat 'n vlammedood vrygespring het, omdat daar op sekere plase niks meer natuurlike weiding oor is nie. Vrystaat Landbou (VL) het daarom R100 000 uit sy Rampfonds beskikbaar gestel vir hoofsaaklik brandstofdoeleindes, sodat veevoerskenkings by dié boere in nood kan uitkom. Francois Wilken, president van VL, doen 'n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en hulp te verleen.  OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Wilken gepraat...


Sien PODCAST aan die einde van die blad


Wilken sê boere se groot verlies is hartseer en die werklikheid is egter dat hulle diere nou gevoer moet word.  Daar is op sekere plase geen weiding oor nie en vee asook wild moet eet. Daarom het VL besluit om geld beskikbaar te stel vir die vervoer van veevoer wat geskenk is deur weldoeners. Hy sê daar is skenkings beskikbaar maar dit moet vervoer word na dié distrik.  

Wilken sê die nood is groot en enige hulp in die vorm van geldelike skenkings of veevoer sal met ope arms verwelkom word. Daar is gemeenskappe wat reeds hulp aangebied het, maar meer hulp word benodig, sê hy.

Hy sê VL is in die proses om met die hulp van sy strukture op grondvlak 'n opname te doen van die skade.

Dié brand het Sondag in Hertzogville ontstaan toe inwoners van die plaaslike township oor swak dienslewering betoog het. Die polisie se ondersoek van 'n klag van brandstigting word ook deur Vrystaat Landbou (VL) verwelkom en volgens inligting is daar ook reeds verdagtes in hegtenis geneem.

Diegene wat betrokke wil raak met skenkings kan Elize Spence by VL se kantoor by elize@vslandbou.co.za of (051) 444-4609 kontak. Daarmee saam kan geldelike bydraes gedoen word aan VL se rampfonds by: Vrystaat Landbou ABSA Rekeningnr: 470940670 Takkode: 632005 Verwysing: RAMP+ selnommer.

Intussen sê die netwerk vir familieboere Saai daar word druk toegepas vir ramphulp vanaf die regering, maar volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter, het die regering egter 'n  baanrekord van diskriminasie, bedrog en nepotisme wat ramphulpverlening betref. 

Saai sal met soveel moontlik netwerkvennote saamspan om boer-tot-boer-hulp te organiseer en families te ondersteun, sodat hulle op hul plase kan bly. Hy doen daarom 'n beroep op boere van elders in die land, wat veevoer of ander hulpmiddele wil skenk, om Saai by 066-071-6094 te kontak. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.