On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Hertzogville-brande: Veeverliese 'n emosionele kwessie vir boere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:51 Wed, 21 Oct 2020

Hertzogville-brande: Veeverliese 'n emosionele kwessie vir boere | News Article
FOTO: Verskaf

Die verlies aan vee, strukture en weiveld in die Hertzogville-, Boshof-, Dealesville- en selfs die Hoopstad-gebied is baie groot, nadat 'n brand Sondag in Hertzogville ontstaan en vinnig versprei het.


Die brand het na bewering uitgebreek toe inwoners van 'n plaaslike woonbuurt oor waterkwessies betoog het. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê honderde miljoen rande se skade is aangerig en na raming het sowat 100 000 hektaar weiveld in die slag gebly. Hy sê boere is hartseer oor hul veeverliese, want dit is 'n emosionele kwessie,  maar hulle is geensins moedeloos nie. Volgens Olivier is daar ook groot dankbaarheid onder dié boere vir veevoerskenings wat broodnodig is. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Olivier gepraat...


Sien PODCAST aan die einde van die blad


Hy sê die meeste brande in dié distrik was teen gister onder beheer, maar die brand tussen Boshof, Christiana en Windsorton wat boere Maandagaand besig gehou het, het weer opgevlam. Volgens hom is dit maar die geval wanneer die wind saans gaan lê en dit koeler is, maar soggens weer opsteek en van rigting verander.

Hy sê die ondersteuning wat dié boere ontvang, is ongelooflik en daar is nie moedeloosheid onder hulle nie, want "as dit sleg gaan, kom die beste in boere na vore". Dit word dan vervang met vasberadenheid. Hy sê die ondersteuning wat dié boere ontvang van die breë publiek en die samewerking wat daar is tussen die betrokke gemeenskappe asook die hulp van buite-organisasies, laat hulle staande bly. 

Olivier meen egter die skade wat deur die brande veroorsaak is, is 'n werklikheid en honderde miljoene rande se verlies is gelei. Vee, wat skape, beeste en bokke insluit, asook wild, het in die slag gebly. Strukture op plase is ook verwoes. 'n Skadebepaling is in die proses en verslae oor die skade op plase word stadig ingedien, want dié boere pas nog skadebeheer toe. Daarmee saam moet hulle nog brande bestry,  terwyl normale werksaamhede op plase moet voortgaan. Hy sê boere in dié distrik kyk nou met honger oë na reën wat nou broodnodig is. 

Hy sê dit is vir die boere wat vee in die brande verloor het, 'n emosionele ervaring, omdat daar 'n sterk band tussen 'n boer en sy diere is. Hy sê daar was gevalle waar van die boere nie van hul vee, wat erge brandwonde opgedoen het, van kant kon maak nie. Ander boere moes kom help met dié taak. Daar is hartseer, maar hy beklemtoon weer eens dat boere nie moedeloos is nie. Gemeenskappe ondersteun die boere en sielkundige berading is aangebied. Die hulp wat boere ontvang is wonderlik, asook geld en veevoerskenings word met ope arms verwelkom en daar is groot dankbaarheid daarvoor. 

Hy meen dié tragedie het mense saamgesnoer. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.