On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Familiewyne kry nuwe aanlyn-platform

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 26 Oct 2020

Familiewyne kry nuwe aanlyn-platform | News Article
Image: insideguide.co.za

Die negatiewe impak van die nasionale inperking te midde van Covid-19 op die Suid-Afrikaanse ekonomie, gee geboorte aan verskeie uitvindsels om die impak teen te werk.


So 'n projek het dit nou moontlik gemaak dat verbruikers Suid-Afrikaanse familiewyne op een plek aanlyn kan koop. Tydens die inperking was die verkoop van alkohol verbied, wat die plaaslike wynbedryf geknou het. 

Die organisasie vir familieboere, Saai, het 'n aanlyn winkel - Die Wynboer - bekendgestel om familiewynboere ‘n platform te gee om hulle wyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers regoor die land bekend te stel. 

OFM-nuus se Elsabé Richard het met Kwagga Boucher, uitvoerende hoof van Die Wynboer gesels oor hoe hierdie platform nuwe lewe gaan blaas in die plaaslike wynbedryf…


Sien onderstaande PODCAST


Boucher sê die platform stel tans nege familiewynboere ten toon en dat die organisasie beoog om nog vier familiewynboere in die komende weke op die platform bekend te stel. Hy sê familiewynboere wat deel vorm van die inisiatief kry ‘n geleentheid om hulle wyne beskikbaar te stel aan die hele Suid-Afrika.

“Die platform is so gestig dat jy wyn direk by die boer koop. So, die middelman word uitgesny en dit help die boer ook,” verduidelik Boucher.

Hy sê die organisasie werk saam met die distribusie-maatskappy Aramex, wat hulle in staat stel om wyn oral in die land teen ‘n bekostigbare prys af te lewer.

Boucher, wat self ‘n wynboer is, sê die coronavirus-pandemie het ‘n groot impak op wynprodusente gehad, “maar die groter langtermyn skade is dat soveel meer wingerde uitgehaal is”.  

Hy voeg by dat Suid-Afrika in 2010 net minder as 110 000 hektaar wingerd gehad het, “in 2019 het dit al geval na 92 000 hektaar en ons het die nuus gekry dat daar in Suid-Afrika nou net 84 000 hektaar wingerd oor is”. Boucher beskryf hierdie daling as dramaties en sê dat wingerde ‘n langtermyn-beleging is wat baie duur is om te vestig.

Hy sê dit is belangrik dat daar weer ‘n gesonde kultuur geskep moet word dat tafelwyn meer blootstelling in die platteland moet kry.

“Ek dink vir baie lank het die ouens net gefokus op die metro’s… ons wil nou platteland toe en ons wil die kultuur van boutique-wyne gaan bemark,” deel hy.

Om jou familiewynplaas op hierdie platform te kry kan jy ‘n epos stuur na kwagga@thewinefarmer.co.za of besoek www.diewynboer.co.za vir meer inligting.

 

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.