Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 29 Oct 2020
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Laubscher fokus hierdie week op werksmag en indiensneming. Hy sê die meeste ontwikkelende lande het reeds voor die Covid-19-pandemie geworstel met werkskepping, maar waarvan die omvang sektor-spesifiek was. Hy verduidelik dat die uitdaging is en bly om meer werkgeleenthede te skep en dit is slegs moontlik indien ‘n ekonomie groei om sodoende die vraag na arbeid te skep.
Hy sê sektorale verskille in terme van arbeid-absorpsie is ook aan die orde van die dag. Hoë verwagtinge word van landbou gekoester ten opsigte van nuwe en volhoubare werkskepping, terwyl dit ‘n bekende feit is dat moderne landbou met kapitaal, mense teen ‘n stygende tempo vervang.
"Die onlangse werkskepping inisiatief van die regering om binne die afsienbare toekoms bykans ‘n miljoen nuwe werkgeleenthede te skep, as direkte uitvloeisel van ‘n baie verbeeldingryke infrastruktuur-ontwikkeling, is redelik lou ontvang,” sê Laubscher. Hy verduidelik dat die rede daarvoor is omdat die staat homself primêr sien as die dryfkrag agter dié ontwikkeling. Laubscher meen die staat kan nie werk skep op 'n volhoubare basis nie. Hy sê dit is duidelik as daar gekyk word na die huidige salarisrekening van die staat. Hy sê hierdie salarisrekening is onbekostigbaar en selfs met meer mense wie se werk befonds word, kan permanente indiensneming nie ‘n verwagte uitkoms wees nie.
Hy voeg verder by dat dit ‘n verwagting in Suid-Afrika is dat klein boere sal deel vorm van werkskepping in die land. Hy sê die vestiging van opkomende boere op die aangewese 700 000 hektaar landbougrond kan lei tot beter indiensneming in die landbou.
Die vraag wat egter ontstaan, volgens Laubscher, is watter bydrae hierdie boere kan lewer anders as net om op ‘n ander manier afhanklik te bly van die regering. Hy sê indien hierdie klein boere betrek word op die basis dat hulle hul arbeid op sulke plase of stukke grond kan hefboom, kan dit ‘n enorme bydrae lewer tot die vermindering van druk op die fiskus.
OFM-nuus
