Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 30 Oct 2020
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...
Sien onderstaande PODCAST
'n Vloot vragmotors, volgelaai met veevoer, het Maandagoggend uit Leandra, Mpumalanga, vertrek om hulp aan boere in Hertzogville in die Vrystaat te verleen. Dit kom nadat onlangse brande in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-gebied in die Vrystaat, sowat 100 000 hektaar veld verwoes het. 'n Wildsboer van Leandra, Aubrey van Wyngaard, sê die Leandra boerevereniging het die veevoer geskenk om moed te skep onder boere wie se plase afgebrand het. Van Wyngaard sê hy het gedurende die naweek 20 van sy vragmotors gelaai met sowat 800 bale veevoer om Maandag die pad te vat Hertzogville toe. Hy sê dit is 'n spanpoging en dat dit vir hulle baie belangrik om is om boere wat in nood verkeer, te help. Van Wyngaard sê boere moet nie moed verloor nie.
Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, sê sowat 30 000 hektaar veld is in die Noord-Kaap verwoes weens onlangse wegholveldbrande in die provinsie. Hy sê die organisasie is tans besig om hulp te verleen aan boere, nie net in die Noord-Kaap nie, maar in die Vrystaat ook. Jansen sê hulle is dankbaar dat die organisasie, wat geleë is in 'n droogterampgebied - ondanks sy eie uitdagings -finansiële hulp kan bied aan boere wat hulp nodig het weens dié veldbrande. Hy voeg by Agri Noord-Kaap het ook skenkings gemaak aan die Vrystaat waar sowat 100 000 hektaar veld verwoes is.
Inwoners van die Noord-Kaap word versoek om aansoek te doen vir beskikbare staatsgrond in die provinsie. Dit kom nadat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, aangekondig het dat meer as 12 000 hektaar staatsgrond vir voorheen benadeeldes in die provinsie beskikbaar is. Die Noord-Kaapse LUR van landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Mase Manopole, sê die grond is geleë in die John Taolo Gaetsewe-streek, wat Kuruman insluit, maar enige kwalifiserende inwoner in die provinsie kan wel aansoek doen. Sy verduidelik dat vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede sal voorkeur kry om grond vir landboudoeleindes te bekom.
EN
Die onlangse wegholveldbrande in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-gebiede in die Vrystaat het sowat 339 plase in die provinsie geraak. Dit is volgens Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), ná 'n vergadering Dinsdag met landbouvereniging-voorsitters van die brand-geteisterde Wes-Vrystaat. Armour sê die vergadering was om ‘n behoefte-bepaling te doen van boere wat deur die veldbrande geraak is. Hy verduidelik dat daar in hierdie stadium nog net bevestiging is van sowat 100 000 hektaar veld wat verwoes is, maar dat die finale oppervlak binnekort bekend gemaak behoort te word. Armour sê dis nog moeilik in hierdie stadium om die totale omvang van die skade wat elke boer gely het, te bepaal.
OFM-nuus
