Agri Hour
Agri NK maak planne bekend vir 2021─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 02 Nov 2020

Nicol Jansen, wat herkies is as president van Agri Noord-Kaap op dié organisasie se 41ste jaarkongres, sê die organisasie het groot planne vir volgende jaar.
Jansen sê hierdie planne sluit onder meer in voortgesette druk op die nasionale Departement van Landbou om droogteramphulpfondse, wat aan die provinsie toegeken is, beskikbaar te stel.
OFM-nuus se Elsabé Richard het met Jansen gesels…
Sien onderstaande PODCAST
In terme van planne vir Agri Noord-Kaap vir die volgende jaar, sê Jansen die organisasie gaan fokus op bemarking en die uitbreiding van sy ledetal. Hy voeg by dat die tweede fokusareas die organisasie se transformasie-doelwitte in die provinsie is. Jansen sê hulle gaan kyk na watter transformasie-projekte reeds van stapel gestuur is en in watter ekonomiese volhoubare toestand hierdie bemagtigingsprojekte is. “Daarmee saam is ons aktief besig om ‘n struktuur daar te stel om ons opkomende boere op ‘n makliker manier in te skakel by ons Agri Noord-Kaap struktuur, sodat ons ook… op hulle vlak van diens kan wees en die voordele van ons organisasie kan benut,” sê Jansen.
Hy sê die organisasie sal voortgaan om te verseker dat die geld wat aan die provinsie toegeken is, beskikbaar gestel sal word sodat boere die droogtehulpfondse kan ontvang. Hy voeg by dat Agri Noord-Kaap saam met die African Farmers Association of South Africa (AFASA) werk om hulp op grondvlak te kry. Hy sê hulle is besig om ook op nasionale vlak druk toe te pas om antwoorde te kry oor hoekom daar nie spoedig uitvoering is in die toekenning van fondse vir die Noord-Kaap nie.
Verder sê Jansen druk word ook toegepas vir die herstelling van die vloedwalle in die benede Oranje Rivier wat tans baie kwesbaar is. Hy sê indien hierdie projek ter waarde van ongeveer R900 miljoen nie afgehandel word nie, sal dit tot niet gaan.
In lig van die nuus dat hy weer as president van die organisasie gaan dien, het Jansen bygevoeg dat hy dankbaar is en dat dit vir hom ‘n voorreg is om boere van die Noord-Kaap te verteenwoordig. “Ek sal my uiterste bes doen om tot die beste belang van lede op grondvlak ten alle tye te bevorder en bevoordeel ten opsigte van wat die provinsie in die gesig staar,” deel hy.
OFM-nuus