Agri Hour
Miljoene rande ingesamel vir VS boere─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 02 Nov 2020
AfriForum, in samewerking met onder meer Vrystaat Landbou, Agri Noordwes en Gift of the Givers, het meer as R4,5 miljoen, asook tonne produkte ingesamel vir boere wat deur die onlangse vernietigende brande in die Wes-Vrystaat geraak is.
Die woordvoerder en koördineerder van AfriForum se Boks-vir-’n-Boer-projek sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die publiek wat hulle harte en beursies oopgemaak het om boere te help.
Hier is Maree…
Sien onderstaande PODCAST
Die organisasie sê in ‘n verklaring fondse wat ingesamel is, sal aangewend word om boere te ondersteun wat in nood verkeer as gevolg van die onlangse veldbrande. Honderde ton voer is ook reeds gestuur of word tans afgelewer.
Maree voeg verder by dat die reaksie op die organisasie se versoek vir hulp aan die boere oorweldigend is en sê dit is skenkings deur die publiek wat hulle in staat stel het om boere te kan help.
Ander organisasies wat deel vorm van hierdie inisiatief, is Caring Daisies, Saai, die Solidariteit Helpende Hand, TLU Noordwes, Vuilskapie, Boeredroogtehulp SA, Save the Sheep, Droogte Hulp en Boere in Nood.
Die sluitingsdatum waarop mense bokse by AfriForum se hoofkantoor kon aflaai, was Vrydag 30 Oktober. Maree sê die kosskenkings wat hulle ontvang het, is meer as genoeg om in die boere se huidige behoeftes te voorsien. Hy sê die verskeie instansies sal vandeesweek voortgaan om hulp in die vorm van voer aan boere te voorsien.
Intussen word daar ’n konsert op Woensdag 4 November in Pretoria gehou om sodoende verdere fondse in te samel. Sangers wat by die konsert sal optree, is Appel, Jay, Adam Tas, Ichnus Wait en Pieter Smith. Kaartjies kos R180 en kan by www.dappermedia.co.za gekoop word.
OFM-nuus
