Agri Hour
Cape Wools SA: Bykans 100% van bale op veiling verkoop─── 05:00 Fri, 06 Nov 2020
Soos oudergewoonte op 'n Vrydag, verskaf ons die weeklikse nasionale wolmarkverslag, wat deur Cape Wools SA aan OFM-nuus beskikbaar gestel word.
Vandeesweek se wolveiling het met 'n aanvanklike offer van 8 163 bale afgeskop, nadat 182 bale onttrek is. Luidens Cape Wools SA se wolmarkverslag is 'n algehele verkoopspersentasie van 96,2% op die wolveiling behaal.
Die mark het goed presteer en met 7,9% toegeneem om teen R157,17 per kg te sluit. Volgens die wolmarkverslag is die styging behaal ten spyte van die Rand wat 1,1% sterker teen die Amerikaanse Dollar verhandel het, met 'n styging van 9,13% in Amerikaanse Dollar-terme.
Die eerste dag van die Australiese veiling het goed verloop, en het 'n styging van 7,5% getoon. Daar was goeie mededinging vir die fyner lang merino vagwol, met sowat 70% van die aanbod wat 20 mikron en fyner getoets het.
Daar was ook groter mededinging vir volhoubaar geproduseerde wol, wat 28,4% van die merinowol aanbod uitgemaak het en 18,6% van die wol wat op die veiling verkoop is.
Die grootste kopers op die veiling was: Modiano SA met 2 128 bale, Lempriere SA met 1 895 bale, Standard Wool SA met 1 202 bale en Stucken & Co met 1 077 bale wol.
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron-kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5), was soos volg: 18,0 mikron tipe het met 5,7% gestyg en teen R193,53 per kg gesluit.
Die 18,5 mikron tipe het met 6,8% toegeneem en teen R182,11 per kg gesluit, terwyl die 19 mikron tipe verhoog het met 6,6% en teen R170,76 per kg gesluit het.
Die 19,5 mikron tipe het versterk met 8,7% en teen R161,50 per kg gesluit, terwyl die 20 mikron tipe met 8,8% gestyg het en op R154,02 per kg gesluit het.
Die 20,5 mikron tipe het met 9,7% versterk en op R149,32 per kg gesluit. Die 21,0 mikron tipe het met 10,9% gestyg en teen R150,44 per kg gesluit, terwyl die 21,5 mikron tipe met 6,8% toegeneem het en op R142,87 per kg gesluit het. Die 22 mikron tipe wol het met 4,6% gestyg en op R137,43 per kg gesluit terwyl die 22,5 mikron tipe wol met 4,6% gestyg het en op R141,40 per kg gesluit het.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 11 November 2020 waar ongeveer 11 020 bale aangebied sal word.
Vir meer gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie in die verskillende mikronkategorieë, besoek www.ofm.co.za, kliek op Agriculture, News en Agri-Hour.
OFM-nuus
