Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 06 Jul 2020
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou vandeesweek se hoofstories op OFM uit...
Sien onderstaande PODCAST
Die ekonomiese verlies weens wegholbrande in die Noord-Kaap én die Vrystaat is groot. Dit is volgens landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, dr. Frikkie Maré. Maré meen dat weiveld wat nou afgebrand het, maklik vir ‘n tydperk van meer as 'n jaar gerus moet word. Hy sê volgens raming het ongeveer 98 000 hektaar veld afgebrand. Die koste van voer vir beeste moet in berekening gebring word. Maré sê hulpmiddels wat nou beskikbaar is, gaan in die volgende jaar selfs meer benodig word.
'n Bekende sakevrou en boer, Mimi Jacobs, wat vroeër vanjaar op haar huurplaas in die Soutpan- en Glen-gebied in die Vrystaat aangeval is, het Dinsdag 'n voertuig van die Provinsiale Departement van Landbou ontvang. Die woordvoerder vir die departement, Zimasa Leputla, sê die voertuig wat oorhandig is deur die LUR vir Landbou, William Bulwane, kom nadat Jacobs haar uitdagings om haar produkte te vervoer met die departement gedeel het. Leputla voeg by dat - as deel van vennootskappe met belanghebbendes in die sektor - dit belangrik vir die departement is om ondersteuning aan kleinboere in die provinsie te bied. Jacobs, wat in 2016 as die Vrystaat se beste vroulike boer in die afdeling vir opkomende boere aangewys is, is gewond toe drie gewapende mans haar in haar plaashuis met messe aangeval het. Die verdagtes het met haar selfoon en bankkaart gevlug.
Daarmee saam was kenners op ’n webinaar oor plaasveiligheid dit eens dat doeltreffende misdaadintelligensie, die uitruil van inligting, en goeie kommunikasie, asook goeie verhoudings tussen boerderygemeeenskappe en die polisie, van deurslaggewende belang vir landelike veiligheid is. Landbouweekblad berig dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), sê van 1 April 2016 tot 31 Maart vanjaar is 95 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom net omdat inligting betyds uitgeruil is. Vanaf April tot 15 Oktober vanjaar is ’n verdere 17 plaasaanvalle só voorkom. Voorbeelde van inligting wat tussen gemeenskappe en die polisie gedeel en uitgeruil is, sluit in mense wat by plaaswerkers navraag doen oor vuurwapens en geld in plaashuise, besoeke onder valse voorwendsels soos die aankoop van vee en voer, gemeenskapslede wat hoor van beplande aanvalle, intimidasie van boere en hul werkers, asook verdagte vreemdelinge wat in die omgewing rondbeweeg.
AfriForum, in samewerking met onder meer Vrystaat Landbou, Agri Noordwes en Gift of the Givers, het meer as R4,5 miljoen, asook tonne produkte ingesamel vir boere wat deur die onlangse vernietigende brande in die Wes-Vrystaat geraak is. Die woordvoerder en koördineerder van AfriForum se Boks-vir-’n-Boer-projek, Henk Maree sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die publiek wat hulle harte en beursies oopgemaak het om boere te help. Die organisasie sê in ‘n verklaring fondse wat ingesamel is, sal aangewend word om boere te ondersteun wat in nood verkeer as gevolg van die onlangse veldbrande. Honderde ton voer is ook reeds gestuur of word tans afgelewer. Maree voeg verder by dat die reaksie op die organisasie se versoek vir hulp aan die boere oorweldigend is en sê dit is skenkings deur die publiek wat hulle in staat gestel het om boere te kan help.
OFM-nuus
