Agri Hour
Optimistiese NK-boere wag steeds op droogtehulpfondse─── 05:00 Tue, 10 Nov 2020
Die westelike- en sentrale dele van die Noord-Kaap gaan steeds gebuk onder erge droogte.
Dit is volgens Willem Symington, vise-president van Agri Noord-Kaap. Symington het aan OFM-nuus se Blaine Jones gesê hulle is wel optimisties dat die droogte tydens die somerreënvalperiode gebreek sal word. Hy het ook gepraat oor die droogtehulpfondse wat nog nie aan boere in droogtegeteisterde gebiede uitbetaal is nie, sowel as die impak wat die Covid-19-inperkings op boere gehad het.
Hier is Symington…
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê voorspellings vir goeie reënval lyk in hierdie stadium goed en dat ‘n groot gedeelte van die provinsie die afgelope week ligte verspreide buie ervaar het.
Wat die droogtehulpfonds betref, sê Symington boere het steeds nie dié fondse ontvang nie. Hy sê die nasionale regering het reeds hierdie geld bewillig vir verligting maar dat dit nog nie beskikbaar gestel is nie. “Boere is werklikwaar in die begin van hierdie somer op ‘n plek waar hulle finansies uitgeput is om verdere veevoer aan te koop vir hulle diere, en die situasie op die grond is werklikwaar haglik,” verduidelik Symington.
Hy sê verder dat Agri SA hulp verskaf het tydens die nasionale Covid-19-inperkings deur te verseker dat permitte aan boere uitgereik word. Symington sê egter die pekanneutbedryf, onder meer, het skade gely aangesien daar ‘n situasie ontstaan het met die uitvoer van pekanneute na China.
Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Boere Droogtehulp SA, Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar.
OFM-nuus/Blaine Jones
