Agri Hour
Lisensie-aansoeke vir selfopwekkingsfasiliteite kan voortgaan─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 11 Nov 2020
Agri SA het die goedkeuring verwelkom dat die Nasionale Energie-reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nou lisensie-aansoeke vir selfopwekkingsfasiliteite van meer as 1 megawatt (MW) en die verwerking daarvan mag toestaan.
Volgens die voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel by Agri SA, Nicol Jansen, maak dié goedkeuring dit ook moontlik vir boere om in die vryemark oorskot elektrisiteit te verkoop. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom hieroor gesels…
Sien onderstaande PODCAST
Jansen sê wat belangrik is om waar te neem is dat die landbousektor nou self voorsieningseenhede van groter as 1MW kan oprig. Hy verduidelik dat die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie aangekondig het dat daar 'n vereenvoudigde lisensiëringsproses by Nersa is. Hy meen hierdie proses gaan baie tyd spaar wanneer hierdie opwekkingseenhede gelisensieer word by Nersa.
Verder beteken hierdie goedkeuring dat dit nie meer vir voornemende aansoekers nodig is om ministeriële goedkeuring te kry vir afwyking van die IRP 2019 voordat hulle Nersa nader om ‘n lisensie te bekom nie. "Die goedkeuring maak ook voorsiening vir die oordrag van elektrisiteit en, addisioneel tot regulatoriese en administratiewe blokkasies wat uit die weg geruim is, is daar ‘n geleentheid vir boere om in die vryemark oorskot elektrisiteit te verkoop," sê Agri SA in 'n verklaring.
Gegewe die elektrisiteitsbeperkings wat die land ervaar, is Agri SA van mening dat dit 'n positiewe stap is om die druk van Eskom te verlig, noudat onafhanklike verskaffers ook die mark kan betree. Die organisasie meen dat stabiele kragtoevoer noodsaaklik is vir ontwikkeling in die land, en ook 'n kritieke rol in ekonomiese groei speel . Die landbousektor kan help om hierdie doel te bereik.
Jansen voeg verder by dat Agri SA lede sal ondersteun en help waar nodig sodat almal kan voordeel trek uit die verbeterde, gladde verloop van die lisensiëringsproses.
OFM-nuus
