On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:30 Thu, 19 Nov 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST


In vandag se insetsel praat Laubscher oor kern elemente vir plaasvlak strategiese herskikking ná Covid-19.

“Soos enige ander besigheid is ‘n boerdery veronderstel om ‘n langtermyn-strategie met duidelik meetbare doelwitte te hê.  Die sukses van so ‘n strategie lê in die implementering en die belyning binne die strukture wat implementering moontlik maak. Alhoewel droogtes siklies is, noodsaak enige eksterne skok, soos die pandemie, ‘n herwaardering. 'n Mens moet bereid en in staat wees om strategiese omweë te maak, maar sonder om rigting te verloor in terme van die oorhoofse strategie waarop besluit is, mits dié strategiese padkaart nog op koers is. Iemand het by geleentheid opgemerk “Things are always different - the art is figuring out which differences matter.” Dit is wonderlik om die verandering wat reën bring, te ervaar.

“Vyf kern-elemente kan strategiese herskikking tot op plaasvlak rig. Die elemente is ‘n ontleding van die eksterne en interne realiteite, om seker te maak waarheen jy op pad is, besluit oor hoe om te kom waar jy wil wees, oor te gaan tot aksie, en laastens vordering te meet.

“Die pandemie dwing strategiese omweë af. Niks is dieselfde nie en min van wat in die verlede gewerk het, gaan dalk nou werk. Ontleed die werklikheid soos dit is en nie soos wat jy hoop dit moet wees nie. Bepaal watter kragte gaan teen en vir jou werk. Probeer om dit wat vir jou kan werk, in stand te hou of in 'n toestand te kry om dit te hefboom om die andersins negatiewe kragte ten minste te versag. Betrek kundigheid en moenie die naaste bure, jou plaaswerkers, oorsien nie. Kommunikeer gereeld oor die stand van sake, al is dit slegte nuus. Openbaar ‘n oop gemoed ten opsigte van nuwe idees as ‘n middel tot bemagtiging – doen dit tot op die laagste vlakke. Die uitdaging lê in herkalibrering van die balans tussen optimisme en skeptiese sinisme.  Verdiskonteer “dit gaan weer eendag anders wees” versigtig en binne die interne realiteite van jou boerdery.

“Hou die droom vir jou boerdery lewend, maar realisties. Korttermyn-strategieë sal nodig wees as ompaaie. Voor-die-hand-liggende struikelblokke moet eers uit die pad kom. Die vraag is nie net of die regte dinge gedoen word nie, maar of die regte dinge reg gedoen word. Uitvoering behoort in die huidige tyd en aanpassing in die toekomstige tyd gedoen te word. Wees hard en ongenaakbaar met uitvoering om gevolg te gee aan die uitdagings nou en sagter met aanpassings ten opsigte van toekomstige uitdagings.

“Moenie rondtrap tussen baie moontlikhede nie, ontwikkel ‘n plan om die uitdagings nou die hoof te bied. Implementeer en meet aan die hand van die sogenaamde SMART-beginsel wat geld vir doelwitte: S vir Spesifiek – wees spesifiek oor wat jy jou ten doel stel; M vir Meetbaar – doelwitte moet meetbaar wees; A vir Haalbaar (Engels: ”achievable”); R vir Realistiese doelwitte – is die bronne byvoorbeeld beskikbaar om te doen wat jy wil doen/behaal en T vir Tydsgebonde – daar moet ‘n tyd aan gekoppel wees – wanneer wil jy wat bereik?

“Vervolgens gaan dit oor besluitneming oor hoe om te kom waar jy wil wees.  Wanneer 'n mens verstaan van waar jy oor ‘n tyd wil wees wat jou boerdery aanbetref, is dit goed om vandaar terug te kyk na die nou. Die metode gee ‘n aanduiding van wat van herskikking – die aangewese strategie om die toekoms, met die nou te koppel. Boere sal dit goed verstaan as die ratwerk en watter mate van insig en inligting nodig gaan wees om by die eindpunt uit te kom. Strategie ontwikkeling behels noodwendig ook die prioritisering van doenbare stappe. Sonder goeie begrip van die sleutel strategiese drywers kan die kritiese bepalers van sukses oor die langtermyn sukses nie ontsluit word nie. Dit sluit alle tersaaklike hulpbronne in en moet handel met die werklikheid soos dit is, verwysend na die eerste kern element. Onthou die pandemie het 'n mens anders laat kyk en werk met die beskikbare gereedskap.

“Met ‘n goeie begrip van die pad wat geloop moet word – ons praat van ‘n strategie padkaart - moet daar oorgegaan word tot aksie. ‘n Strategie is net so goed soos die implementering daarvan. Ongelukkig het 'n mens nie die luukse om eers die pad te voltooi voordat jy daarop kan loop nie. Die pad word gebou soos jy daarop loop. Rigting is belangrik, maar taktiese aksie stappe vat mens om en deur die slaggate van die onbekende, met die voet op die petrol vir waar daar gelykpad is. Wees egter bedag daarop dat aksies en taktieke jou nie vervreem van die vermoë om op koers te bly nie. Wees en bly in staat om te bepaal hoe die visie en strategie van die boerdery deurvloei tot die laagste vlakke van die onderneming. Dit moet as't ware deel word van die DNS van die besigheid.

“Baie leiers faal die vyfde kern-element omdat hulle nie die vordering teen doelwitte meet nie. Vergelyk dit met ‘n pad na ‘n bestemming. Gereelde pad[naam]borde dui nie net die regte rigting aan nie, maar ook hoe jy vorder op pad na die volgende dorp. Soos wat jy vet moet gee vir ‘n opdraende en spoedbeheer toepas op die gelyk pad, behels meting ook dat voldoende investering deurlopend nodig is. Daar moet genoeg brandstof beskikbaar wees om die rit na ‘n beter môre, te voltooi. Sterkte,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.