On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Hier is van jou hoof landboustories op OFM

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 20 Nov 2020

Hier is van jou hoof landboustories op OFM | News Article

Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...


Sien onderstaande PODCAST


Twee verdagtes wat tereg staan op die moord van die 56-jarige Hennenman-boer, Pieter Hills, en sy 26-jarige seun Eddie, sal op 9 Desember weer in die plaaslike hof verskyn. Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Phaladi Shuping, sê die twee verdagtes het Maandag hulle borgtogaansoeke laat vaar. Dit kom nadat Hills na bewering op 5 November in sy huis op Swartpan-plaas deur 'n groep aanvallers oorrompel is. Eddie, sy seun, is na bewering ná sy tuiskoms van die gymnasium af gewond. Hills is na bewering in die kop geskiet en is deur owerhede op die toneel dood verklaar. Eddie is in die hospitaal opgeneem waarna hy breindood verklaar is. Hy het verlede week aan sy wonde beswyk. Intussen het sowat 400 lede van Vrystaat Landbou (VL) die hofverrigtinge bygewoon ter ondersteuning van die Hills-gesin. Die president van VL, Francois Wilken, sê die organisasie se misie is om misdaad en veral plaasmoorde onder die publiek se aandag te bring. Om VL te ondersteun om plaasaanvalle en -moorde hok te slaan, SMS jou naam na 37840.

Boere in droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap sal na verwagting teen die einde van November tot Desember vanjaar voer ontvang. Dit kom nadat boere in dié gebiede nog nie vanjaar droogtehulpfondse ontvang het nie. Die woordvoerder vir die Departement van Landbou, Omgewingsake, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Zandisile Luphahla, sê R36 miljoen van die Nasionale Rampbestuursfonds is vir droogtehulp aan die provinsie toegeken. Luphahla voeg by dat die departement met administratiewe prosesse begin het, soos die indiening van aansoeke en om diensverskaffers te identifiseer. Die indiening van aansoeke vir droogtehulpbefondsing in drie droogtegeteisterde distrikte, naamlik Namakwa, Pixley ka Seme en ZF Mgcawu, het reeds op 16 Oktober 2020 gesluit. OFM-nuus het vroeër berig dat die droeë toestande in sekere gebiede in die Noord-Kaap steeds 'n werklikheid is. Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, sê boere trek swaar in terme van die beskikbaarheid van weiding en veevoer vir hulle diere. Daarom het Agri Noord-Kaap by ander provinsies gaan aanklop vir droogtehulp. Hy sê van die buurprovinsies het aangedui dat hulle alles in die stryd gaan werp om hulp in terme van veevoer aan dié boere in nood te verskaf.

Die impak van misdaad en misdaadbekamping kan boere in net een Vrystaatse distrik R9,8 miljoen tot R20,7 miljoen per jaar kos. Dit is volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), wat sê dit is afgesien van die emosionele tol wat voortdurende waaksaamheid eis. Skokkende syfers oor die uitwerking van misdaad op die kommersiële landboubedryf in die Vrystaatse Goudveld het Maandag aan die lig gekom in Vrystaat Landbou se voorlegging in die Hennenmanse landdroshof, om borgtog vir die verdagte moordenaars van Pieter en Eddie Hills teen te staan. Luidens Landbouweekblad is tien mense die afgelope sewe maande op Vrystaatse plase vermoor, teenoor ses in die volle vorige boekjaar. Die helfte van die moorde tot dusver vanjaar – op drie boere en twee werkers – het in die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit voorgekom. Volgens Vrystaat Landbou se voorlegging is boere liggaamlik en emosioneel uitgeput omdat hulle 24 uur per dag aan diens moet wees, geen subsidie van die staat ontvang nie, en toenemend die polisie in landelike gebiede moet ondersteun.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.