On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agri Hour

Skaapgetalle in NK laag, RPO bly positief

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 24 Nov 2020

Skaapgetalle in NK laag, RPO bly positief | News Article
Image: Sabrina Dean

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap sê skaapgetalle in die provinsie is laag weens die voortslepende droogte waaronder sekere gebiede steeds gebuk gaan.


Die organisasie se Johannes Human sê egter hulle bly hoopvol dat 2021 ‘n beter jaar vir die provinsie sal wees. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gesels oor hoe dit met die rooivleisbedryf in die provinsie gaan sowel as hoe die vleispryse tans lyk…


Sien onderstaande PODCAST


Ten spyte van die onlangse lekker reënval regoor die land, gaan ‘n groot deel van die Noord-Kaap steeds onder erge droogte gebuk. Human sê as gevolg hiervan het die noord-oostelike dele van die provinsie brande ervaar wat groot verwoesting gesaai het. Hierdie brande het rooivleisprodusente swaar getref. Hy voeg egter by dat alhoewel die provinsie in ‘n boufase is, lewer boere steeds goeie produkte.

Wat vleispryse betref, sê Human produsentepryse is redelik billik, “en tans soos die pryse aangaan behou [pryse] dieselfde vlakke en beweeg ons redelik sywaarts”. Hy verduidelik ook dat veral beesvleispryse in dié stadium verbruikersvriendelik is. Human voeg by dat daar verwag kan word dat vleispryse nie veel sal styg tydens en ná die Kersseisoen nie. Hy sê produsente is gerat vir die komende Kerstyd.

“Ek wil net vir almal sê vasbyt deur die tyd wat ons nou in is, veral vir ons produsente. Dankie vir elkeen wat nogsteeds bereid is om rooivleis op sy bord te sit, dit hou ons boere op hulle plase.”

Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe, veral in die Noord-Kaap, te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Agri SA en Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.