On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Ekonoom kyk terug na 2020, deel 2021-vooruitsigte

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 24 Nov 2020

Ekonoom kyk terug na 2020, deel 2021-vooruitsigte | News Article
Photo: Pixabay/Fernando Zhiminaicela

Die jaar 2020 het baie uitdagings gehad, maar dit het die landboubedryf se deursettingsvermoë bevestig.


Dit is volgens Nico Groenewald, hoof van landboubesigheid by Standard Bank. Lise Roberts, ‘n aanbieder van Plaas Media se aanlyn-televisieprogram, Plaas TV, het met Groenewald gesels oor die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig gestaar het, sowel as wat 2021 moontlik vir dié bedryf kan inhou. Hier is Groenewald…


Sien onderstaande PODCAST


Wanneer daar teruggekyk word na alles wat hierdie jaar gebeur het, is van die hoogtepunte ‘n groot mielieoes en koringboere wat goed gedoen het, sê Groenewald. Hy verduidelik dat tegnologie weens die Covid-19-pandemie versnel het soos wat die landbousektor nuwe maniere gevind het om steeds besigheid te doen. ‘n Voorbeeld hiervan is, onder meer, aanlynveilings. 

Nóg ‘n positiewe wat hierdie jaar die lig gesien het, is die omvattende meesterplanne vir die landbousektor. Groenewald voeg by nog positiewe gebeurtenisse is dat die onteieningswet in 2020 momentum begin kry het sowel as die rentekoers wat gedaal het met sowat 300 basispunte, wat ‘n positiewe bydrae tot gevolg gehad het vir die landbousektor.

As daar na die negatiewe van die jaar gekyk word, sê Groenewald is die konstante agteruitgang van infrastruktuur waarbinne landbou in die landelike gebiede moet funksioneer, een aspek wat aangespreek moet word. Hy sê die agteruitgang van infrastruktuur belemmer die groei van landbou. Daarmee saam was landelike veiligheid ‘n voortdurende kwessie, veral in die Vrystaat waar boere as gevolg van plaasaanvalle hul lewens verloor het.

Dan is daar die voortslepende droogte waaronder sekere gebiede in die land steeds gebuk gaan. OFM-nuus het vroeër berig dat boere wat geleë is in droogtegeteisterde gebiede in die Noord- en Wes-Kaap, in nood verkeer weens erge droogte. Boere se fondse is uitgeput en van hierdie boere moes selfs hulle hekke sluit en iewers anders ‘n heenkome gaan soek.

Intussen sê Groenewald wanneer daar na die 2021-vooruitsigte gekyk word, is klimaatsverandering hier om te bly. “Ek sien die mense in die Wes-Kaap praat van ‘n spesifieke area wat meer prominent geraak gaan word deur klimaatsverandering, en dan natuurlik ook die westelike dele van die land,” verduidelik hy.

Groenewald sê volgens weervoorspellings gaan Suid-Afrika bogemiddelde reënval ervaar as gevolg van ‘n La Nina-fase. Hierdie verskynsel is weer eens goeie nuus vir boere. Hy voorspel ook dat daar voortgebou sal word op die uitbreiding van hoëwaarde gewasse soos avokado’s, makadamia’s en vrugte – wat kan bydra tot die goeie uitvoer syfers wat Suid-Afrika gedurende 2020 gesien het.



OFM-nuus



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.