Agri Hour
#Covid19 het heelwat geleenthede vir wynbedryf geskep─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 25 Nov 2020
Die wynbedryf het vanjaar tydens die Covid-19 pandemie sowat R7 miljard verloor, maar ten spyte hiervan, het daar talle nuwe geleenthede vir die bedryf na vore gekom.
Volgens Wanda Augustyn, woordvoerder vir Vinpro, het die pandemie ook nuwe bemarkingskanale ontsluit, spesifiek direk aan die verbruiker. Sy het aan OFM-nuus se Elsabé Richard vertel dat sosiale media ook ‘n groot rol gespeel het gedurende die nasionale inperkings. Hier is Augustyn…
Sien onderstaande PODCAST
Augustyn sê baie kelders het herbesin oor die pad vorentoe en dat kostebesparingstategieë een van die aspekte was wat onmiddellik geïmplementeer is. “Daar is ook besin oor besigheidsmodelle en vennote, en veral gekyk na doeltreffendheid. Die krisis het die werklike waarde van verhoudings na vore gebring, nie net handelsverhoudings nie, maar verhoudings met verskaffers,” verduidelik sy.
Die belangrikheid van sosiale media het “blitsvinnig” na vore gekom soos nuwe innovasies soos virtuele wynproeë, wynskoue en kompetisies aan die orde van die dag was. Augustyn meen die tuisete-ervaring het ook ‘n legio geleenthede vir die wynbedryf gebring. Daarmee saam bied Brexit ‘n markgeleentheid om 70 miljoen liter wyn, tariefvry, na Brittanje en 150 miljoen liter na die Europese Unie uit te voer.
Suid-Afrikaanse produsente en wynkelders werk reeds nou al saam in die aanloop tot die 2021-wyndruifoes. Dit, om enige verdere negatiewe gevolge van beperkings op drankverkope sedert Maart vanjaar te probeer verminder. Augustyn sê ongeag die uitdagings wat die wynbedryf in die gesig staar, bly die fokus op gehalte. Sy voeg verder by dat die rampherstelplan, om wynverwante ondernemings te herbou, insluit die aansoek vir finansiële verligting van die regering – waarvan R12 miljoen reeds gerealiseer het vir wyntoerisme, die bevordering van plaaslike verkope, en die uitvoering van wyntoerisme terwyl onwettige handel aangespreek word.
Augustyn voeg egter by dat die volgende 12 tot 18 maande moeilik sal wees vir baie wynkelders, “en alhoewel verkope nou weer normaal is en ons moontlike stadige herstel in volume mag sien, bly waarde ‘n groot uitdaging en sal die bedryf nie sommer die R7 miljard wat reeds verloor is, kan opmaak nie”.
OFM-nuus
