On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 26 Nov 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher. Hier is Laubscher…


Sien onderstaande PODCAST


Laubscher gesels vandeesweek oor die impak van ‘n verkorte beplanningshorison. 

"Markte bly onstabiel vanweë talle onsekerhede en die vraag is hoe normale markseine verstaan en/of vertolk moet word.  Tegnies herlei bemarkingstelsels inligting tussen die twee belangrikste punte binne ‘n waardeketting, naamlik produksie en verbruik by wyse van pryse.  Die resulterende gedrag wissel en is ongelyk in terme van reaksie. Goeie voorbeelde is waar winkels tans probeer om opgepotte voorrade te skuif deur middel van aggressiewe advertensies, want versigtige verbruikers moet as gevolg van die pandemie anders hanteer word. Insgelyks is lae uitverkopingspryse ook nie ‘n doeltreffende rigtingwysers aan produsente nie. Vele faktore dra by tot wisselende gedrag aan albei kante van die waardeketting.

"Plaasvlak-produksie verander nie oornag nie en ‘n besluit om produksie aan te pas by veranderde vraag-omstandighede neem tyd. Dit is eie aan landbouproduksie. So kan ‘n melkboer, wat as gevolg van hoër pryse besluit om meer melk te produseer, nie oornag sy besluit omkeer nie. Dit is ‘n proses. Wanneer pryse styg, wil boere eers bevestiging kry dat dit redelik lank op ‘n hoër vlak sal bly en doen dan stappe om meer melk te produseer. Dit kan lei tot verhoogde produksie per koei en/of meer koeie wat gemelk word. Dit kan tot gevolg hê dat meer melk selfs teen dalende pryse geproduseer moet word. In daardie stadium kan die boer nie ewe skielik probeer om Blommetjie se 30 liter melk per dag af te bring na 15 liter per dag om sy totale produksie te verminder nie. Hy moet die lae pryse verduur en ander weë vind om wins te maak.

"Aan die verbruikerskant is reaksie wel vinniger, maar ook nog nie vinnig genoeg nie. Brood-en-botter-aankope is prysgedrewe, maar daar is elemente van handelsmerk-differensiasie. Wanneer beursies onder druk is, koop die meeste die goedkoopste. Baie geld word bestee om verbruikers te probeer oorreed om van handelsmerk te verander. Spesiale kortings soos met Swart Vrydag kan ‘n positiewe impak hê op verkope, maar in die geval van sogenaamde wit goedere is dit nie maklik nie. As die yskas nog heeltemal goed werk, sal dit baie oorreding kos om op Swart Vrydag ‘n nuwe te wil koop, al kos dit 50% minder.

"Met hierdie in gedagte, ontstaan die vraag oor hoe produsente en verbruikers nou moet reageer. Verbruikers se inkomste is onder druk en dié met geld, is baie versigtig om te spandeer. Aanloklike aanbiedinge het ook nie noodwendig trefkrag nie. Trouens daar is ‘n deurlopende soeke na groter sekerheid, maar wat duidelik ons nie meer beskore kan wees met die pandemie nie.  Die konvensie was om te midde van onsekerheid terug te val op die bekende – SOP= standard operating procedures en om selfs deur middel van allerlei ingenieursfoefies omstandighede te manipuleer om geagte oplossings te maak werk.

"Wat nou aan die orde van die dag is, word beskryf as lei van die moontlike versus die konvensionele bestuur van die waarskynlike.  Dit beteken dat beplanningshorisonne ingekort word en vandaar die blywende onsekerheid.  ‘n Amperse gemasjineerde benadering tot probleem-oplossing maak plek vir groter pragmatisme met verskillende moontlike antwoorde. Die spektrum van alternatiewe verbreed en hierin is ‘n klomp opwindende uitdagings opgesluit. Verbruikers dink en doen anders en is minder voorspelbaar omdat die kanse om te manipuleer verskraal.  Hierdie verwikkeling moet vervolgens deur boere verdiskonteer word om produksie dienooreenkomstig te rig.  Saamgelees met die feit dat boere prysnemers is met min tot geen vermoë om prysdiskriminasie toe te pas nie, blyk mobiliteit ten opsigte van tydige aanpassings in gedrang te bly. Daar is egter goeie nuus en wel tot die mate wat die funksionaliteit van waardekettings verbeter omdat verbruikers anders en onkonvensioneel dink.  Verbeterde intra-waardeketting kommunikasie gaan verbruiker en produsent nader aan mekaar bring, met gevolglike versnelde reaksie.  Digitale bemagtiging van die verbuiker sal oorspoel tot die plaashek en die nuwe normaal sal ‘n afgeleide van spoed word," sê Laubscher.


 

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.