On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Produsente kan asem skep ná goeie graanseisoen

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 30 Nov 2020

Produsente kan asem skep ná goeie graanseisoen | News Article

Die 2019/20-bemarkingsjaar vir graanproduksie was ‘n goeie een.


Volgens Luan van der Walt, ‘n landbou-ekonoom by Graan SA, kom dit nadat produsente verskeie uitdagings ervaar het. Hy deel dat die uitdagings insluit droogtetoestande sowel as lae pryse gedurende goeie produksieseisoene. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gesels oor hoe dit met die graanbedryf gaan…


Sien onderstaande PODCAST


Van der Walt voeg verder by dat die graanbedryf die afgelope tweejaar verskeie uitdagings ervaar het in terme van produksie-omstandighede. Hy sê egter produksie-omstandighede was hierdie seisoen meer gunstiger en daarom skat die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) dat die tweede grootste oes van sowat 15.4 miljoen ton hierdie seisoen geoes sal word. Hy sê produsente het ook 'n baie goeie prysjaar gehad. "Ek dink ná hierdie seisoen was daar darem bietjie weer asem vir 'n groot gedeelte van die land se produsente en ons hoop vir die beste op 'n nuwe seisoen ook," sê Van der Walt. 

As daar gekyk word na aanplantings vir die nuwe seisoen sê hy aanplantings het goed gevorder vergeleke met die afgelope vyf jaar. Hierdie jaar was die beste begin van 'n plantseisoen wat die bedryf nog ervaar het. Hy sê tradisioneel begin aanplantings in die oostelike gedeeltes van die land wat Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Oos-Vrystaat insluit. Hy verduideik: "As ons kyk na produksie-omstandighede, sien ons dit het lekker wyd gereën oor die land, so die aanplantings het op tyd plaasvind. Hier en daar was daar gedeeltes waar dit te nat was vir die aanplantings om plaas te vind, so dit was bietjie vertraag weens te nat toestande, veral in die Oos-Vrystaat."

Hy sê dis positief om te weet dat in moeilike omstandighede die graangebruik, veral witmielies, die afgelope twee tot drie jaar weer aansienlik hoër is. Hierdie styging in gebruik korreleer gewoonlik met ekonomiese toestande.

Van der Walt sluit af deur te sê dat ten spyte van 'n goeie oes hierdie jaar, ontstaan daar dalk nog baie onsekerheid vir produsente. Hy voeg by dat hierdie onsekerhede behels wat met die graanpryse gaan gebeur en hoe produksie lyk. Hy raai egter graanprodusente aan om te fokus op goeie bestuur en goeie besluitneming en om inligting bymekaar te maak - soos internasionale en ekonomiese inligting. "Die belangrikste ding egter is om goed vertroud te wees met jou syfers. Weet presies waar lê jou gelykbreekpunte en teen watter prys om jou prys gelyk te breek sodat jy beter en goeie besluite kan neem vorentoe in hierdie seisoen, en ook te verseker jy kan 'n wins maak en volhoubaar op die plaas bly".



OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.