Agri Hour
Misdaad 'n kwellende kwessie in NW-landbougemeenskappe─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 07 Dec 2020
Die misdaadsituasie in die Noordwes is net een van die kwellende kwessies wat landbougemeenskappe in dié provinsie mee worstel.
Volgens Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sluit ander kwessies in onwettige grondbesettings. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Hierdie grondbesettings, sê Du Toit, neem verskeie gedaantes aan en die plaaslike polisie versuim om op te tree teen oortreders. Hy voeg by dat onwettige grondbesettings die organisasie genoop het om ‘n nasionale taakspan te kry om noord van Vryburg ontplooi te word. Daarmee saam sê Du Toit die ondersoek in hierdie gebiede is goed op dreef.
Hy voeg egter by dat die polisie se ondersteuning na bewering baie swak is in ander areas waarin hulle hulp nodig het, en dit verg van hulle om dikwels met groot konflik met die provinsiale polisiebestuur in gesprek te tree en hulle ook tot die nasionale bestuur te wend. Du Toit sê die organisasie kyk nou na regsaksies vir die instel van regsverydeling en ook ander klagtes wat moontlik Agri Noordwes sal help om uitdagings aan te spreek.
Ten spyte van die uitdagings wat boere in die gesig staar, voeg hy by dat boere hoopvol bly en produseer met hul oë na Bo gerig - “ons weet waar ons krag en leiding vandaan kom.” Hy sê in hierdie tye is ondersteunende en samewerkende optrede tussen burgerlike samelewingsorganisasies baie belangrik. Du Toit doen 'n beroep op die landbougemeenskap om hulle van konflik te weerhou en saam te werk om die uitdagings wat hulle in die gesig staar, aan te pak.
OFM-nuus
