Agri Hour
Sprinkaanswerms onder beheer, sê VL─── 11:57 Fri, 04 Dec 2020
Swerms sprinkane in die Edenburg-distrik in die Vrystaat, wat soos stofwolke vertoon, is volgens Vrystaat Landbou (VL) in dié stadium onder beheer.
Dr. Jack Armour, bedryfshoof van Vrystaat Landbou, sê volgens 'n plaaslike sprinkaanbeampte, Gert Greyvenstein, is die swerms opgemerk en gespuit in die Smithfield-, Springfontein-, Vanstadensrus- en Reddersburg-omgewings.
Dié swerms het in die Oos-Karoo uitgebroei en met sterk winde by die Suid-Vrystaat uitgekom. Die sprinkane is nou naby broeifase. Boere wat swerms opmerk, moet hulle volg en die bure laat weet van die rigting waarin hulle beweeg. Tussen 17:00 en 18:00 moet die plek deurgegee word aan Greyvenstein of Armour om die departement se sluit-spanne in te lig. Wanneer die sprinkane dan tussen 19:00 en 19:30 rustig raak vir die nag, moet die GPS-koördinaat van die finale posisie deurgestuur word. Daar sal dan ’n 2-weke onttrekkingsperiode vir diere geld daar waar die grond oornag gespuit is.
Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het vandeesweek bevestig dat drie provinsies in dié stadium met ‘n sprinkaanplaag te doen het. Spesialiste werk saam met die nasionale departement om die situasie in die Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Kaap te beheer.
OFM-nuus het vroeër berig die rede waarom daar tans soveel sprinkane is, is as gevolg van die onlangse reën ná lang droogtes wat veral in die Noord-Kaap ondervind is. ‘n Distriksprinkaanbeampte van VL, Junior Jacobs, het verduidelik dat sprinkane eiers lê tydens droogtes - maar dat die toestande nie geskik is om uit te broei nie. Hy voeg by dat sprinkaaneiers vir jare lank in veral sandgrond kan oorleef en sodra die ideale toestande voorkom, dan broei die eiers uit. "Daar is twee vereistes - vog en hitte - en as dít voorkom dan broei daardie eiers uit. En dit het nou gebeur dat daar dele, wel van die Noord-Kaap soos ek gehoor het, reën gehad het, so dis hoekom hier nou geïsoleerde swerms sprinkane by ons voorkom," verduidelik Jacobs. Hy noem dat dit gewoonlik die bruinsprinkaan is wat hierdie swerms vorm.
Hy sê verder die sprinkane beweeg altyd van wes na oos. Daarmee saam voeg hy by hy neem aan dat die rede hiervoor is omdat daar gewoonlik in die ooste groener velde is in die rigting van Lesotho. Groot sprinkaanswerms hou 'n risiko in vir mielies en lusernlande.
Jacobs sê die beste manier om van dié pes ontslae te raak is om hulle te bespuit met middels wat deur die plaaslike departement van landbou verskaf word. "Die beste is as 'n mens die sprinkane kan kry sodra hulle uitgebroei het - want kyk, hulle is mos eers voetgangers. Vir etlike dae kan hulle nog nie vlieg nie... So, as jy hulle dan kan opspoor dan kan 'n mens hulle spuit," voeg Jacobs by.
Hy sê sodra die sprinkane kan vlieg, moet hulle bewegings gemonitor word. Sprinkane is koudbloedig so sodra hulle gaan "sit" by sononder, dan kan hulle gespuit word tot die eerste sonstrale verskyn. 'n Ander opsie is om hulle op te jaag en so ontslae te raak van hulle.
OFM-nuus
