On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Winste in pluimveebedryf toon ‘n afname

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 08 Dec 2020

Winste in pluimveebedryf toon ‘n afname | News Article
Foto: Gallo

Winste in die pluimveebedryf toon ‘n geweldige afname.


Volgens Izaak Breytenbach, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging (SAPV), is daar twee redes vir hierdie afname. Hy voeg by dat een van hierdie redes die uitwerking van Covid-19 op die bedryf is. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gesels oor uitdagings wat die bedryf in die gesig staar sowel as goeie nuus uit die bedryf…


Sien onderstaande PODCAST


Hy verduidelik dat resultate wat deur maatskappye vrygestel is, toon dat winste ‘n afname toon. Redes hiervoor kan toegeskryf word aan die feit dat die vraag na hoender afgeneem het sedert die begin van die uitbraak van die koronavirus wat daartoe gelei het dat daar ‘n oorproduksie van hoender was.  Nóg ‘n rede vir die afname in winste is dat invoer tussen Julie en September vanjaar met ongeveer 44% toegeneem het – wat ‘n groot probleem vir die bedryf is, sê Breytenbach.

Breytenbach verduidelik dat voor die uitbraak van die virus in Suid-Afrika, is sowat 200 000 ton hoender per maand verbruik, wat nou afgeneem het na ongeveer 170 000 ton per maand. Hy voeg by dat wat die bedryf wel tot nou opgemerk het, is dat daar ‘n toename is in die vraag na hoender, wat normaal is vir hierdie tyd van die jaar. Breytenbach sê egter hierdie vraag is laer as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Daarmee saam is vroeë aanduidings ook dat die pryse laer is as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Dít gesê, invoer is nog ‘n uitdaging wat die plaaslike pluimveebedryf ervaar. “Wanneer invoer in enige bedryf met 44% toeneem, dan druk dit daardie bedryf dood. Dit maak dit moeilik vir daardie bedryf om 'n wins te maak. Dit maak dit moelik vir daardie bedryf om te herbelê. So, ons het ‘n groot probleem ná die Covid-19 episode,” voeg hy by.

Wanneer daar gekyk word na vooruitsigte vir die bedryf in 2021, sê Breytenbach daar is verwagtinge dat die bedryf onder druk gaan wees weens die newe-effekte van die pandemie op die bedryf. Hy verduidelik dat daar ook bekommernis is oor die volgende winter, sou die virus dieselfde uitwerking hê as wat dit tans in Europa het – waar streng maatreëls weer in plek gestel is om die virus hok te slaan.

Ten spyte van hierdie uitdagings is Breytenbach van mening dat die bedryf ‘n goeie jaar gehad het. Hy voeg by dat hulle ‘n groot hoeveelheid werk gedoen het in terme van die meesterplan wat hopelik vrugte in die komende jaar sal afwerp. Daarmee saam is daar ook aansoek gedoen vir teenstortingstariewe teen vyf lande, naamlik Brasilië en vier Europese lande, “en dit sal spreekwoordelik die laaste gate in die emmer begin toedruk en vir ons beter [toekomsvooruitsigte] in die hoender[bedryf] gee.”


 

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.