On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Wees bedag, veilig hierdie feesseisoen - VL

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 09 Dec 2020

Wees bedag, veilig hierdie feesseisoen - VL | News Article

Hierdie tyd van die jaar word nie net deur feesvieringe en vakansies gekenmerk nie, maar ook ‘n toename in veediefstal en plaasaanvalle.


Luidens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), moet boere ten alle tye veiligheidsmaatreëls volg om plaasmisdaad te voorkom. Een van hierdie maatreëls is om jou onmiddelike omgewing te beveilig. Hier is Buys met nog maniere vir boere om veilig te wees hierdie feesseisoen…


Sien onderstaande PODCAST


Buys verduidelik die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) stuur elke jaar die Veiliger Feesseisoen-operasies van stapel as gevolg van die toemane in misdaad dié tyd van die jaar.

Buys raai boere aan om te kyk na wat hulle kan doen om hulle onmiddellike omgewing beter te beveilig. Sy voeg by dat boere seker moet maak dat hulle selfoonseine werk omdat daar ‘n geneigdheid is dat selfoonseine en netwerke onder geweldige druk is as gevolg van selfoontoringbatterye wat gesteel word. 

“Selfoonnetwerke is maar ‘n probleem in die landelike gebiede en ek dink die groot diensverskaffers [soos] Vodacom… moet ook baie ernstig daarna kyk om daardie netwerke in die landelike gebiede daar te stel en uit te brei. So… boere moet seker maak dat hulle [toegang tot] kommunikasie het,” sê Buys.

‘n Ander belangrike aspek is dat boere alle misdaadinsidente wat in landelike gebiede plaasvind, hetsy eiendomsverwant of veediefstalverwante, by die naaste beheerkamer moet aanmeld. Daar is tans sowat 20 beheerkamers in die Vrystaat wat omtrent 32 dorpe bedien. 

Buys meen ook boere moet let op die beweging van verdagte persone en voertuie op hulle plase. Sy verduidelik in sowat 40% tot 50% van plaasaanvalle maak verdagtes van voertuie gebruik. Daarmee saam sê sy maak veediewe ook van voertuie soos trokke en bakkies gebruik en daarom is dit belangrik om op te let of daar voertuie en mense is wat verdag voorkom en dit by die polise of VL aan te meld sodat dit opgevolg kan word. Verder is goeie werksverhoudings tussen boere en hulle werknemers belangrik. Buys sê soms weet werkers van baie bewegings in die area ten opsigte van moontlike kriminaliteit.

 Sy verduidelik ook dat daar altyd ‘n verwantskap is tussen ernstige plaasmisdaad en eiendomsverwante misdade, “so dis hoekom dit belangrik is om alle eiendomsverwante misdaad te rapporteer”.

Laastens voeg sy by dat boere hulleself moet bemagtig met die nodige kennis en opleiding om sodoende hulleself, hulle families en werkers te beskerm. Sy sê VL kyk daarna om hierdie opleidingsessies weer in Januarie 2021 voort te sit.

Die organisasie doen ook ‘n beroep op die polisie om die bewusmakingsveldtogte in die landelike gebiede uit te voer. Sy voeg by hierdie is ‘n aspek binne die landelike beveiligingstrategie wat die landelike veiligheidskoördineerders moet doen, “plaasbesoeke moet geprioritiseer word van die polisie se kant af. Hulle moet sorg dat hulle op die plase kom en die boere en hulle werkers besoek en hoor of daar enige inligting of bewegings is.”

Daarmee saam sluit Buys af deur boere aan te raai om hierdie feesseisoen betrokke te raak by die wit-en-blou ligte operasies saam met die polisie en selfs ook plaaslike sekuriteitsmaatskappye om hoë sigbaarheid in landelike gebiede te verseker.  


OFM-nuus



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.