Agri Hour
Reën bring hoop vir meeste NK-boere─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 10 Dec 2020
Die noordelike- en oostelike dele van die Noord-Kaap het reën gekry wat beteken die gebiede wat nog nie reën gekry het nie, raak minder.
So sê Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap. Jansen voeg egter by dat die Namakwaland-omgewing, wat onder meer Poffadder insluit, nog nie reën gekry het nie. Ten spyte hiervan sê hy bly hulle steeds hoopvol dat hierdie gebiede wel in die afsienbare toekoms reën sal kry. Hier is Jansen met die jongste reënvalsyfers…
Sien onderstaande PODCAST
Jansen sê die noordelike dele van die Noord-Kaap, wat Hotazel insluit, het sowat 25mm tot 30mm reën gekry. Die Kuruman-, Kathu-, en Daniëlskuil-omgewings het sowat 55mm reën ontvang terwyl die Griekwastad-omgewing sowat 30mm reën aangeteken het.
Jansen voeg by dat die Niekerkshoop-omgewing redelik baie reën ontvang het aangesien 100mm reën, wat gepaard gegaan het met hael en wind, daar aangeteken is.
As daar gekyk word na reënval in die Kalahari, het Van Zylsrus ook bietjie reën gekry, sê Jansen.
Daarmee saam het Prieska sowat 50mm reën ontvang, terwyl De Aar sowat 25mm reën gekry het.
Jansen sê hulle is ook baie dankbaar vir reënval in Williston nadat tussen 25mm en 60mm reën in hierdie omgewing voorgekom het, “maar Calvinia en dan hierdie sentrale Brandvlei-gedeeltes en Namakwaland in die Boesmanland, op na Poffadder toe, is nog oorgeslaan.”
Hy voeg by dat hulle hoop vir spoedige opvolgreën sodat boere goeie weidingsveld vir hulle diere kan hê. “En verder hoop en glo en vertrou ek dat hierdie sentrale gedeelte, die westelike en suidelike gedeelte van die Noord-Kaap wat so ‘n rampgebied is, ook wydverspreide reën sal kry en dat dit spoedig ook daar verligting sal bring,” sluit Jansen af.
OFM-nuus
