Agri Hour
VS plaasaanvalle toon 'n toename─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 11 Dec 2020
Die nuutse plaasaanvalle en –moordstatistieke in die Vrystaat toon dat 53 plaasaanvalle, wat nege moorde insluit, gedurende die tydperk 1 April tot 30 November vanjaar plaasgevind het.
Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL) het hierdie misdade op plotte en plase in die provinsie plaasgevind. OFM-nuus se Elsabé Richard het met haar hieroor gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Sy verduidelik dat 20 van die aanvalle op werkers, voormanne en sekuriteitswagte was terwyl 16 aanvalle op produsente en hulle families was. Buys voeg by dat in ander gevalle is vier persone aangeval wat woonagtig op plase en kleinhoewes was, een insident was op ‘n spekulant wat beseer was in ‘n aanval, twee opkomende boere is aangeval en in een geval is ‘n produsent sowel as werkers aangeval. Daarmee saam was kinders in vier van die plaasaanvalle slagoffers. Wanneer daar gekyk word na statistieke vir 2019, sê Buys was daar 34 plaasaanvalle, wat 6 moorde ingesluit het.
Wanneer hierdie syfers vergelyk word met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, sê Buys is daar ‘n duidelike toename in aanvalle en moorde. “In terme van die vorige jaar, 2019, was daar 34 plaasaanvalle wat 6 moorde ingesluit het – ons het dus ‘n toename van 19 plaasaanvalle wat in die Vrystaat 35.9% beloop,” sê Buys.
Die meerderheid van die plaasaanvalle het in November vanjaar plaasgevind. Buys sê inhegtenisnames is uitgevoer in 12 van die plaasaanval-insidente en in 3 van die plaasmoord-insidente.
Sy herinner boere opnuut om paraat te wees gedurende die komende feesseisoen aangesien misdaad geneig is om toe te neem gedurende hierdie periode. Sy doen ‘n beroep op boere en hul werkers om enige verdagte voertuie en persone, veral in die landelike gebiede, te rapporteer aan veiligheidsverteenwoordigers van plaaslike boereverenigings of aan die polisie se landelike veiligheidskoördineerders. Daarmee saam sê sy boere moet kyk na hoe hulle hulle onmiddellike omgewing kan beveilig en te verseker dat hulle kommunikasienetwerke werk, “en dat ons ook seker maak dat ons ag slaan op sekere misdade wat voorlopers is van moontlike plaasaanvalle – in die verband veral vergiftiging van honde,” verduidelik Buys.
OFM-nuus
