Agri Hour
Sentraal Karoo worstel steeds met droogte─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 06 Jan 2021
Dis kritiek droog in die Sentrale Karoo en boere hoop steeds vir reën.
Dit is volgens ‘n plaaslike vroulike boer, Christa Mans.
Sentraal Karoo sluit in die Laingsburg-, Prins Albert-, Merweville-, Leeu Gamka- en Beaufort-Wes-distrikte in die Wes-Kaap.
Mans sê in van hierdie distrikte het dit sewe jaar gelede laas gereën en diere sowel as die boere en hul werknemers verkeer in ‘n voer- en voedselnood. Sy sê hulle is vol vertroue dat hulle ook reën sal ontvang.
Hier is Mans…
Sien onderstaande PODCAST
Mans, wat saam met haar man in die Laingsburg-distrik boer, sê sy en haar man koördineer die voeraankope vir die hele Sentraal Karoo. Dit, nadat sy ‘n groep genaamd Boere met Hoop gestig het wat uit meer as 200 boere bestaan waar voer bestel word en skenkings tussen dié boere uitgedeel word.
Dié boere is geleë in droogtegeteisterde gebiede in die bogenoemde streke.
Mans adverteer voer wat sy teen billike pryse kry op hierdie groep, en stel boere in kennis van enige skenkings wat sy ontvang het.
Sy het voorheen aan OFM-nuus gesê niemand het meer geld om voer te koop of kan vervoerkoste bekostig nie. “Hier’s regtigwaar ‘n groot, groot nood in Sentraal Karoo, selfs vir kos op die tafel ook… Die mense se fondse is nou absoluut uitgeput. Hulle overdrafts is op hulle limiete,” verduidelik Mans. Sy sê heelwat van hulle bure het hulle plase in die mark gesit as gevolg van die droogtesituasie.
Mans voeg verder by dat boere elke dag hoop vir reën. Sy sê ten spyte van die uitdagings bly boere positief en voer hulle steeds hulle diere met die hoop dat hulle in die afsienbare toekoms weer ‘n bestaan sal kan maak uit hulle plase.
Kers-kospakkies
Mans bedank alle organisasies en individue wat die afgelope Kersseisoen kospakkies en veevoer aan boere in die Sentraal Karoo geskenk het. “Mense het met bakkies en sleepwaentjies gekom. Hulle het pakkies [kruideniersware] opgemaak. Hulle het dit by afsetpunte afgegee en dis uitgedeel.
“Ek kan nie vir julle vertel hoeveel liefde daar aan ons geskenk word nie. Daar het ook kospakkies van verskillende organisasies gekom sowel as private persone. Ek wil net weer vir julle sê baie, baie dankie. Ek praat namens Sentraal Karoo en wees geseënd,” deel Mans.
Indien u graag skenkings wil doen aan Boere met Hoop, skakel Mans op 082 745 3487.
OFM-nuus
