Agri Hour
Vuurwapenamnestie sluitingsdatum naby─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 07 Jan 2021
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) waarsku dat daar slegs 18 werksdae oor is vir vuurwapeneienaars om onwettige vuurwapens aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te oorhandig.
Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, sê die amnestie wat op 31 Januarie eindig, bied ook ‘n geleentheid om vuurwapens waarvan die lisensies verval het, in te handig terwyl die eienaars vir nuwe lisensies kan aansoek doen.
Hier is Camphor...
Sien onderstaande PODCAST
SA Jagters sê in ‘n verklaring die doel van hierdie amnestietydperk is om die publiek aan te moedig om onwettige vuurwapens in te handig en vervolging vry te spring.
Die vereniging raai vuurwapeneienaars aan om die dae van die amnestie wat oor is te benut om sodoende onwettige vuurwapens en ammunisie in te handig vir vernietiging. Hy waarsku verder dat diegene wat nie gebruik maak van die amnestietydperk nie krimineel vervolg kan word en ‘n tronkstraf van tien jaar in die gesig staar.
Daarmee saam kan daar binne 14 dae nadat onwettige vuurwapens of ‘n vuurwapen waarvan die lisensie verval het tydens die amnestie ingehandig is, aansoek gedoen word vir ‘n nuwe lisensie. Camphor verduidelik dat die polisie die vuurwapen en ammunisie aan die eienaar sal teruggee sodra die lisensie goedgekeur is.
“Die SAPD sal ballistiese toetse op alle vuurwapens doen wat ingehandig word om vas te stel of dit aan misdaad gekoppel kan word. Enigeen wat ‘n vuurwapen vir vernietiging inhandig, sal ‘n verklaring onderteken wat die vuurwapen verbeurd verklaar en die SAPD magtig om die vuurwapen te vernietig. Geen vergoeding word betaal aan eienaars wat vuurwapens inhandig nie.
“Alle nuwe aansoeke vir vuurwapenlisensies moet voldoen aan die vereistes van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000). Dit sluit onder meer in ‘n geldige bevoegdheidsertifikaat en ‘n motiveringsdokument vir die doel van die vuurwapen (bv. selfverdediging, jag of sportskiet),” lees die verklaring
Die vereniging bied ondersteuning aan sy lede sowel as nie-lede wat gebruik wil maak van die amnestietydperk.
Vir meer inligting en raad kontak SA Jagters by 012 808 9300 of besoek www.sahunters.co.za.
OFM-nuus
