On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agri Hour

'Reën hou 'n risiko in vir rosyntjieproduksie'

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 08 Jan 2021

'Reën hou 'n risiko in vir rosyntjieproduksie' | News Article
Foto: wellandgood.com

Voortdurende reënval kan ‘n negatiewe effek op die produksie van rosyne hê.

Volgens Stefan Jordaan, senior landbouspesialis by Raisins SA in Upington in die Noord-Kaap, kan goeie voorkomende praktyke gevolg word om reënskade te verhoed. Jordaan se kommentaar volg ná onlangse wydverspreide reënval in die provinsie. 

Ferdie Botha, hoof uitvoerende bestuurder van Raisins SA, en Jordaan het gereageer op vrae van OFM-nuus se Elsabé Richard… 

Sien onderstaande PODCAST

Jordaan voeg by dat goeie voorkomende praktyke om reënskade te verhoed, insluit om die wingerd "oop te hou". Hy verduidelik dat ‘n oophou-aksie ”tipies met ‘n snoeiskêr gedoen word en dit help dat daar beter lugbeweging sal plaasvind wat die trosse en die lower vinniger sal laat uitdroog,” verduidelik Jordaan.

Daarmee saam deel hy dat onkruid laag en onder beheer gehou moet word. Dit, omdat die beweging van natuurlike lug beïnvloed sal word deur onkruid wat hoog groei. Negentig persent van die rosyntjiebedryf is in somerreënvalgebiede geleë en daarom sal risiko’s hoog bly om gedurende die somer, voor of tydens die oesseisoen, reën te kry.

Jordaan waarsku produsente om vroeg in die seisoen voorkomend op te tree om reënskade en ander risiko’s te verhoed wat gepaard gaan met reën.

“Dis ook belangrik dat droogbane in lekker oop areas is, wat goeie, natuurlike lugbeweging kry. Ek glo dit is in jare soos dié wat ons ook net weer besef hoe belangrik ‘n doeltreffende droogbaan is. Ek sien dit altyd as die kombuis waar die finale produk gemaak word,” sê Jordaan.

Verder doen Raisins SA hierdie seisoen baie ontwikkelingswerk om te kyk hoe risiko’s soos veroorsaak deur reën te minimaliseer deur van ander droogpraktyke gebruik te maak.

Intussen voeg Botha by dat die 2020-bemarkingsjaar op ‘n goeie noot afgesluit is met 'n goeie vraag na rosyntjies. Hy verduidelik dat hierdie toename in vraag toegeskryf kan word aan verbruikers wat op soek is na gesonder leefstyle en gesonder produkte tydens die Covid-19 pandemie.

Die rosyntjie-oesseisien begin oor drie weke en duur vir ‘n verdere 12 weke.

Meer oor Raisins SA

Botha sê die Suid-Afrikaanse rosynebedyf is meer as 100 jaar oud en die sesde grootste produksiegebied ter wêreld. Hy sê plaaslike rosyne word ook erken as ‘n produk van topgehalte, “en waarskynlik produseer Suid-Afrika die beste rosyne ter wêreld”.

Raisins SA is ‘n statutêre liggaam, ingestel deur die Minister van Landbou. Die organisasie fokus op vyf areas naamlik administratiewe funksies van die bedryf; om navorsing en ontwikkeling namens die bedryf te hanteer en sodoende produktiwiteit en winsgewendheid op plaasvlak te verbeter; om proaktief deel te neem aan transformasie in die bedryf en opkomende of swart produsente in te trek by die formele waardeketting; inligting- en kommunikasie-aktiwiteite; en laastens marktoegang en mark-ontwikkeling - wat in dié stadium ‘n redelike sterk fokusarea vir die bedryf is.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.