Agri Hour
Agri NW maak planne vir 2021 bekend─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 11 Jan 2021
Veiligheid is net een van die uitdagings wat boere in Noordwes in die gesig staar.
Dit is volgens Agri Noordwes se president, Willem De Chavonnes Vrugt. Hy sê dat Agri Noordwes vanjaar op veiligheid sal fokus, sowel as ander kwessies waarmee die boerderygemeenskap worstel. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Goeie vordering is in 2020 gemaak deur strukture in plek te kry met betrekking tot veiligheid. De Chavonnes Vrugt sê die organisasie bou ook ‘n verhouding met die plaaslike polisie om misdaad te help bekamp. “Daar is verskeie veiligheidsplanne wat in werking tree – so daar is goeie vordering [met dit] gemaak,” verduidelik hy.
Daarmee saam voeg De Chavonnes Vrugt by dat die organisasie bekommered is oor hoe dit by munisipaliteite gaan. Hy sê armoede in plattelandse gebiede vererger en munisipaliteite kom nie hulle pligte na nie – wat een van die grootste uitdagings vir die organisasie is.
Verder sê hy gaan die organisasie deelneem aan openbare besprekings van wetgewing soos grondhervorming en grondonteiening sonder vergoeding. De Chavonnes Vrugt sê die organisasie sal deelneem aan hierdie besprekings om Agri Noordwes se sterk teenkanting teen onteiening sonder vergoeding duidelik uit te spreek.
2020 laagte- en hoogtepunte
De Chavonnes Vrugt sê die grootste uitdaging - wat ook gesien kan word as ‘n hoogtepunt – is dat die organisasie lede in staat gestel het om gedurende die Covid-19 inperking voort te gaan met besigheid. Dit, aangesien landbou as ‘n noodsaaklike diens verklaar is. “So van vlak 5 af kon ons aangaan met ons besighede, maar met die nodige permitte en protokolle wat in plek moes [wees],” voeg hy by.
Nog ‘n uitdaging, sê De Chavonnes Vrugt, was die droogte in sekere gebiede in die provinsie. Hy voeg by dat die organisasie hulp verleen het aan hierdie boere. Agri Noordwes het ook droogtehulp verleen aan boere in ander provinsies soos die Noord-Kaap, Oos- en Wes-Kaap sowel as boere in die Vrystaat wat in nood verkeer het weens wegholveldbrande in Oktober verlede jaar.
Diegene wat wil aansluit by Agri Noordwes kan hulle kantoor op 018 632 3612 skakel of hulle webtuiste besoek: www.agrinw.co.za.
OFM-nuus
