On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Reën beïnvloed oeste

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 11 Jan 2021

Reën beïnvloed oeste | News Article
Foto: en.wikipedia.org

Die Bultfontein-gebied is een van die gebiede in die Vrystaat wat baie reën gehad het.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê ander dorpe sluit in Wesselsbron en Hoopstad. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gesels oor die onlangse reën en wat dit beteken vir boere wat tans besig is om te oes…

Sien onderstaande PODCAST

Wilken sê die grootste skade wat hulle van bewus is weens reënval verlede week is in die Bultfontein-, Hoopstad- en Wesselsbron-gebiede. Hy deel dat Bultfontein die ergste deurgeloop het met huise en paaie wat oorstroom het. Boere in hierdie gebiede het gehoop vir sonskyn sodat die grond kan droog word.

 “As ons nou gaan kyk na die seisoen, het vanjaar - vir die eerste keer in baie jare - basies op tyd begin… So, die ouens het redelik betyds kon plant. Almal was baie bly en opgewonde oor die reën, maar nou by party plekke het hy nou net bietjie te veel gereën – veral daar in die plat dele van die Vrystaat. Ons hou maar duime vas dat die son sal begin skyn voor daar groot skade kom en die mielies basies begin geel raak,” sê Wilken.

Hy voeg ook by dat daar tans boere is wat nog nie klaar koring gestroop het nie wat kan lei tot ‘n groot verlies. Dan is daar ook diegene wat laat sonneblomme wil plant en as gevolg van die reënval nie maklik in die landerye sal kan kom nie.

Wilken verduidelik verder dat wanneer water te lank in die lande staan, word dit nie deur die grond geabsorbeer nie omdat daar geen suurstof in die grond is nie, wat veroorsaak dat plantegroei sal vrek.

In stryd hiermee, sê Wilken oor die algemeen word die reënval wyd verwelkom en dat dit nou ’n wag-en-kyk-situasie is om te kyk wanneer die water gaan verminder.

“Natuurlik die veldtoestande vir die vee vir die weiding is uitstekend. Dis ‘n baie goeie jaar wat dit aan betref,” sluit Wilken af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.