On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agri Hour

Nat weer bemoeilik oesproses

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 13 Jan 2021

Nat weer bemoeilik oesproses | News Article

Alhoewel die meeste van die gewasse reeds geoes is, sukkel sommige produsente om klaar te oes weens nat weer.

Dirk Strydom, hoof van graan-ekonomie en -bemarking by Graan SA, sê voortdurende reënval kan negatiewe gevolge hê vir boere wat nog oes en moet plant. 

OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gepraat…

Sien onderstaande PODCAST

Strydom verduidelik dat vog boere wat nog koring op die lande het, sal verhinder om te oes. Daarmee saam het nat toestande ook ‘n beduidende impak op die gradering van die koring, sê hy.

Boere is ook tans besig om nuwe gewasse soos mielies, sojabone en sonneblomme aan te plant. Strydom voeg by dat daar reeds versuipskade in sekere gebiede is waar boere moes oorplant en in ander gebiede het nat toestande boere verhoed om oor te plant. Dit kan gevolglik tot finansiële verliese lei.

“Wat ons ook al geleer het met ‘n nat jaar, is die oomblik wanneer ons nat jare beleef, begin ons dit beleef in terme van gradering… En dan ook is daar siektes wat saam met die nat weer kom. So, die plante is baie makliker vatbaar vir siektes en dit beteken dit is ‘n hoër kostekomponent wat weer moet bestuur word,” sê Strydom.

Hy sê alhoewel reën altyd verwelkom word, kan te veel reën ‘n groot uitdaging vir boere wees. Hy sê boere is nou in ‘n posisie waar hulle sonskyn nodig het sodat plante se normale fisiologiese groei kan plaasvind.

Strydom sê dit is ook moeilik om in hierdie stadium te sê hoe verbruikerspryse geaffekteer gaan word deur die nat weer.

Hy sê egter dat baie gewasse oor die algemeen goed lyk en hulle het goeie reënval ontvang.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.