Agri Hour
Meer as 580mm reën in NW aangeteken─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 19 Jan 2021
Behalwe vir paaie wat verspoel het, is daar nie ander groot skade onder hulle lede aangemeld nie.
So sê Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri Noordwes, ná swaar reën in meeste dele van sentraal Suid-Afrika.
OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
De Chavonnes Vrugt sê die reënvalsyfers lyk goed. Hy sê die provinsie het normale na bo-normale somerreën ervaar. Hy verduidelik dat die sentrale streek van die provinsie veral goeie reënval ontvang het. Maar, daar is nog dele in die Ventersdorp-omgewing wat bietjie droër is, wat al sowat 200mm tot 220mm reën vir die seisoen gehad het.
Hy verduidelik verder dat die westelike en noordelike dele van die provinsie, wat Stella en Vryburg insluit, tussen 200mm en 300mm reënval ontvang het. Hy voeg by dat die syfers normaal is vir hierdie reënvalgebied.
“Dis baie lekker om sulke reënvalsyfers teen hierdie tyd van die jaar te sien en ons is vol moed oor reën wat nog oor die res van die seisoen gaan val,” sê De Chavonnes Vrugt.
Wat reënskade aanbetref, sê hy is daar nie enige groot skade onder Agri Noordwes se lede aangemeld nie. Dit kom nadat daar ‘n opname Vrydag onder die organisasie se lede gedoen is.
De Chavonnes Vrugt voeg by dat almal oor die algemeen dankbaar is vir die goeie reën wat geval het.
Hy sê daar is verslae van paaie wat verspoel het en sê dat dit ook toegeskryf kan word aan onderhoud wat oor ‘n lang tydperk nie gedoen is nie.
OFM-nuus
