Agri Hour
Boere het nie geld om keerwal te herstel nie─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 26 Jan 2021
Daar is jare gelede beraam dat dit ongeveer R3,5 miljoen sou kos om ‘n keerwal in die Modderrivier in die Soutpan-omgewing in die Vrystaat te herstel.
Frieda Vorster, ‘n 84 jarige boer wie se plaas op die wal van die rivier geleë is, sê boere kan nie bekostig om hierdie keerwal te herstel nie.
OFM-nuus se Cathy Dlodlo het met haar gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
‘n Groep boere, waaronder haar pa en oom, het hierdie keerwal op 19 September 1951 begin bou nadat hulle toestemming gekry het vanaf die destydse regering. Die regering het egter toe in ‘n later stadium die grond waarop die wal gebou is, uitgekoop. Dit vorm nou deel van die Soetdoring Natuurreservaat.
Swaar reën en voortdurende reënval oor die jare het die keerwal beskadig. Van die klippe en sement wat gebruik is om die wal te bou het met tyd los gekom en weggespoel. Vorster sê as Bloemfontein weer voortdurende swaar reën ervaar, dan is die kanse groot dat hierdie keerwal ineen sal stort.
“Die probleem is nie net die reënval hier by ons nie, die probleem is die reënval in Bloemfontein. As Bloemfontein twee-duim reën gehad het in ‘n half-uur, dan kom die rivier met ‘n spoed af,” verduidelik Vorster.
Sy sê sy het jare terug gereeld by die plaaslike Departement van Water en Sanitasie se deur gaan aanklop om te help om die wal te herstel, maar dat die versoek op dowe ore geval het.
Intussen het die Vrystaat Landbou LUR, William Bulwane, Vrydag die keerwal besoek en gesê dat hy met die hoof van die plaaslike Departement van Water en Sanitasie, Tseliso Ntili, in kontak sal tree om sy ingenieurs te ontplooi om die keerwal te besoek en vas te stel hoe die wal bewaar kan word.
Hy het ook bygevoeg dat die ingenieurs advies sal kan gee oor of die muur herbou moet word en of dit reggemaak kan word sonder dat dit eers platgeslaan moet word.
OFM-nuus
