On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Wynbedryf herdenk eerste wynoes op SA bodem

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 27 Jan 2021

Wynbedryf herdenk eerste wynoes op SA bodem | News Article
Foto: netwerk24.com

Die publiek word uitgenooi om die tiende herdenking van die eerste wynoes op Suid-Afrikaanse bodem, wat 362 jaar gelede plaasgevind het, virtueel by te woon.

OFM-nuus se Elsabé Richard het met Isabau Botha, korporatiewe kommunikasiebestuurder by Agri Expo hieroor gepraat…

Sien onderstaande PODCAST

Botha deel dat die virtuele gebeurtenis op Dinsdag, 2 Februarie plaas sal vind soos in 1659 deur Jan van Riebeeck in sy dagboek aangeteken.

Sy sê die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid vind vir die tiende keer by Suid-Afrika se oudste wynlandgoed, Groot Constantia, plaas.

“Hierdie geleentheid behels drie aspekte, naamlik die Seën op die Oes, die herdenking van die 362ste bestaansjaar van die wynbedryf en die verering van rolspelers. ‘n Wyn-ikoon of -instansie ontvang elke jaar die spesiale 1659-Toekenning vir Visioenêre Leierskap vir sy/haar of hul bydrae tot die bedryf,” voeg Botha by.

Daarmee saam word daar ook vanjaar drie nuwe toekennings as deel van die Wynoesherdenkingsgeleentheid ingestel. Botha sê die doelwit van hierdie drie nuwe toekennings is “om die poel van erkenning te verbreed”.

Sy sê dié toekennings dek die kategorieë Diversiteit en Transformasie, Wynwaardering en Wynbevordering sowel as Wingerdbou en Wynskepping.

Die internasionaal-bekroonde operasangers en susters Pretty en Nombulelo Yende vorm ook deel van die program van dié geleentheid.

Finansiële ondersteuning en vennootskappe vir die geleentheid kom van Groot Constantia Landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS at SPAR Wine Show. Agri-Expo is die organiseerder.

Gaan na www.sawineharvest.co.za om hierdie geleentheid by te woon. Verrigtinge skop om 19:00 af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.