Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── 05:00 Thu, 28 Jan 2021

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Hier is Laubscher…
Sien onderstaande PODCAST
In vandeesweek se insetsel praat Laubscher oor die ekonomie van gemmer. Laubscher sê die huidige hoë gemmerpryse kom op ‘n baie slegte tyd vir die verbruiker.
“Verbruikers is in rep en roer oor die skerp styging in die prys van vars gemmer en die verloop van sake word nou deur die Mededingingskommissie ondersoek. Is daar dalk ‘n slang in die gras?
“Die huidige hoë pryse kom op ‘n baie slegte tyd vir die verbruiker, want sy beursie is plat, terwyl daar doelbewuste veranderde verbruikspatrone, soos om mens se Immuniteitstelsel te versterk, aan die orde kom. Dié herwaardering van gemmer word verwelkom en kan ‘n meevaller wees vir produsente, maar daar is belangrike feite wat ook verreken moet word.
“Gemmer is vir eeue al deel van die bevolkings van baie lande, veral in Asië. Daar is dus gevestigde handelspatrone met China, Maleisië en Brasilië - die belangrikste uitvoerders. Suid-Afrika is ‘n netto-invoerder van gemmer en het die nodige ooreenkomste met twee van dié uitvoerders. Binnelandse produksie is onvoldoende om aan die groeiende binnelandse vraag te voorsien en verder is daar beperkte uitbreidingsgeleenthede vanweë die aard van produksie en die hulpbronne wat dit vereis.
“In Suid-Afrika word gemmer hoofsaaklik geplant in dele met hoë reënval en spesifieke grond en die aanplant van gemmer in macadamianeut-boorde is baie gewild en verduidelik die plaaslike aard van die ideale produksie omstandighede. Die produksie van gemmer as ‘n seisoen-gebonde gewas is redelik gespesialiseerd, baie arbeidsintensief en verg hoë vlakke van voeding en water.
“Dit word gewoonlik aan die begin van die reënseisoen - Augustus tot November – geplant en in Februarie en Maart van die daaropvolgende jaar, is die eerste oesbare produkte. In daardie stadium is die gemmerknolle sag met min vesel en moet dit met die hand geoes word. Dié produk is hoofsaaklik afgestem op versapping en die produk wat die meeste verbruikers vra, kan eers vanaf Junie en Julie geoes word. Dit neem dus bykans ‘n jaar voordat die produk reg is vir oes. In hierdie tyd is die gemmer “hand” onder die grond uitgelewer aan verskeie plae en peste.
“Wanneer dit uiteindelik markte bereik, betaal kopers op grond van beskikbaarheid. Die varsprodukte markte, waar verhandeling plaasvind, is deursigtig genoeg om prysbinding en/of samespanning moontlik te maak. As die aanbod dus laag is en kopers moet gemmer koop, sal die transaksie net plaasvind as pryse hoog genoeg is. Dit is waar ons ons tans bevind.
“Indien 'n mens egter terugkyk, dan is daar duidelike tekens dat gemmerpryse die afgelope jare wel gestyg het. Hierdie styging was as gevolg van veranderde vraag en die aanbod wat nie kon byhou nie. Gemmer se mark het ook verander, want dit het deel geword van meer diëte, sapvervaardigers het dit al hoe meer begin gebruik, ens. Met die pandemie het groter besorgdheid gekom wat die immuniteit aanbetref en gemmer was die voorkeurproduk. Dié nuwe vraag, tesame met onvoldoende aanbod, moes lei tot hoër pryse.
“Soos reeds verduidelik, is produksie grootliks seisoen-gebonde en kon produsente nie vinnig genoeg reageer nie. Selfs dele in KwaZulu-Natal, waar gemmer deur die jaar geproduseer kan word, kon nie byhou nie. Die aangewese was om in te voer, maar China het as gevolg van oorvloedige reën in die vernaamste produksiegebiede, nie voldoende geproduseer nie. Internasionaal is daar bewyse van skerp prysstygings en hieronder tel lande soos Duitsland, Noorweë, ens. Japan is die grootste invoerder van gemmer en hulle het bepaald ook bygedra tot die onwelkome vir-die-verbruiker prysstygings.
“Die ekonomie leer ons dat hoë pryse self herskik. Aanbod sal bykom en sodra die inperkings verslap word om alkoholverkope weer toe te laat, sal ten minste ‘n deel van die vraag (daar word berig dat gemmer ook gebruik word vir die brou van alkohol) wegval. Dieselfde het in 2020 gebeur met die prys van pynappels toe daar ‘n abnormale vraag ontstaan het vir pynappels om alkoholiese pynappelbier te brou.
“Verbruikers behoort dus nie ag te slaan op die huidige hoë pryse nie, maar kan ook seker maak dat hulle die beste haal uit selfs duur gemmer en om met daardie praktyk voort te gaan, al daal die pryse. Produsente sien deur die huidige hoë pryse, maar weet ook dat hulle pryse opwaarts beweeg om die regte redes,” sluit Laubscher af.
OFM-nuus