Agri Hour
Boere bly oor reën, bekommerd oor keerwal in rivier─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 03 Feb 2021
‘n Boer uit die Soutpan-omgewing in die Vrystaat, Mimie Jacobs, sê goeie reën word wyd verwelkom maar dat dit egter kan veroorsaak dat ‘n keerwal in die Modderrivier naby haar plaas ineenstort.
Hier is Jacobs...
Sien onderstaande PODCAST
Jacobs boer met lusern en pekanneute langs die Modderrivier en sê die onlangse reën het nie ‘n negatiewe invloed op haar gewasse gehad nie.
Sy deel egter dat daar oorstromings was en hulle moes besproeiingspompe sowel as pype van rivierwalle af verwyder.
Jacobs deel haar bekommernis oor die keerwal en sê voortdurende reënval hou ‘n risiko in dat dié wal gaan breek, wat tot gevolg sal hê dat water wegvloei na die Krugersdriftdam toe. Sy sê boerderye langs die rivier, wat afhanklik is van hierdie water, sal negatief beinvloed word.
OFM-nuus het vroeër berig dat swaar en voortdurende reënval oor die jare die keerwal beskadig het. Van die klippe en sement wat gebruik is om die wal te bou het met tyd los gekom en weggespoel.
Daar is jare gelede beraam dat dit ongeveer R3,5 miljoen sou kos om die keerwal te herstel.
Frieda Vorster, ‘n 84-jarige boer wie se plaas op die wal van die rivier geleë is, sê boere kan nie bekostig om hierdie keerwal te herstel nie.
‘n Groep boere, waaronder haar pa en oom, het hierdie keerwal op 19 September 1951 begin bou nadat hulle toestemming gekry het vanaf die destydse regering. Die regering het egter toe in ‘n later stadium die grond waarop die wal gebou is, uitgekoop. Dit vorm nou deel van die Soetdoring Natuurreservaat.
Die Vrystaatse Landbou LUR, William Bulwane, het ook dié keerwal besoek en gesê dat hy met die hoof van die plaaslike Departement van Water en Sanitasie, Tseliso Ntili, in kontak sal tree om sy ingenieurs te ontplooi om die keerwal te besoek en vas te stel hoe die wal bewaar kan word.
Hy het ook bygevoeg dat die ingenieurs advies sal kan gee oor of die muur herbou moet word en of dit reggemaak kan word sonder dat dit eers platgeslaan moet word.
OFM-nuus
