Agri Hour
#NCfloods: Agri NK waarsku oor watervlakke─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 03 Feb 2021

Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, sê boere moet seker maak dat hulle die regte inligting twee keer per dag kry ten opsigte van die vloei en vlakke van die plaaslike riviere.
Dit volg nadat swaar reën onlangs in groot dele van Sentraal Suid-Afrika ervaar is.
Hier is Jansen…
Sien onderstaande PODCAST
Jansen maan boere om pomptoerusting van rivierwalle af weg te skuif na hoër vlaktes.
Hy vra ook die hulp van boere om watervlakke te monitor en dit aan plaaslike strukture te rapporteer.
“In hierdie stadium hou ons duim vas dat die rivier wel hierdie uitlaat en oorloop van die Vanderkloofdam sal kan hanteer, tesame met die water van die Vaalrivier, en dat ons dan hierdie een deurkom sonder erge skade in die Benede-Oranjerivier en die dele wat met vloedwalle beveilig is, wat nie voltooi is nie,” sê Jansen.
Onlangse reënval
Jansen sê groot gedeeltes van die provinsie het goeie reën gekry, terwyl daar dorpe is wat plaaslike en kitsvloede ervaar het weens hoë reënvalsyfers wat aangeteken is.
Hy voeg egter by dat daar steeds groot dele van die Noord-Kaap is wat gebuk gaan onder erge droogte en dat hierdie gebiede nog nie reën gekry het nie.
Daarmee saam sê Jansen die omgewing wes van Carnarvon, Williston, Fraserburg, Sutherland asook die somerreënval gedeeltes van Calvinia, Brandvlei, die hele Boesmanland-streek sowel as sekere gedeeltes van Namakwaland, wat gedurende die winter nie baie reën ervaar het nie, is in hierdie stadium steeds droogtegeteisterde gebiede.
Hy sê die droogte heers al vir byna agt jaar in die bogenoemde gebiede.
Damme
Die Noord-Kaapse Departement van Water en Sanitasie het Dinsdag in ‘n verklaring gesê die Gariepdam is 119,7% vol met 'n gesamentlike uitvloei van 2660 m3/s. Dit, terwyl die Vanderkloofdam, wat aan die provinsies Vrystaat en Noord-Kaap grens, oorloop met 'n kapasiteit van 111,07%, met 'n invloei van 2660 m3/s en ‘n gesamentlike uitvloei van 1794 m3/s. Die Douglas-keerwal het Maandag 'n hoogtepunt van 136,4% bereik.
Die departement het ook bygevoeg dat as gevolg van meer reën stroomop, die Vaal- en Oranjerivier watergebruikers stroomaf van die twee rivierstelsels beïnvloed.
Intussen sê Jansen bestaan die bekommernis dat die riviere nie hierdie water kan hanteer nie en dit tot gevolg kan hê dat dit die walle oorstroom.
Hy deel dat alles in dié stadium onder beheer is en dat die water nog nie rivierwalle oorstroom het nie, maar dat daar egter vloed-omstandighede heers.
Jansen sê Agri Noord-Kaap het nog nie enige verslae van verliese weens oorstromings ontvang nie. Hy sê wel dat daar verlede week skade as gevolg van kitsvloede was, sowel as dat die verkleuring van oeste weens nat toestande en ‘n tekort aan suurstof aangemeld is.
OFM-nuus