On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 04 Feb 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Hier is Laubscher…

Sien ondertaande PODCAST

In vandag se insetsel praat Dr Kobus Laubscher, ‘n landbou ekonoom, oor hoe digitalisering konvensionele landbou omkeer. 

"Tradisionele produksie-tegnieke se rakleeftyd is bepaald in gedrang as mens die uitkoms van ‘n onlangse kompetisie tussen tradisionele aarbei-produksie en digitaal bemagtigde produksie se uitkoms ontleed.

In Mei verlede jaar in China is die waarde van digitale bemagtiging van produsente ondubbelsinnig bewys. Vyf spanne het deelgeneem aan ‘n kompetisie. Die een span het aarbeie op die tradisionele manier geplant met toegang tot die normale (gewone) bronne van inligting. Die ander vier spanne was onbekend aan aarbei produksie en moes met behulp van digitale kanale hulself bemagtig om aarbeie te plant. 

"Aanvanklik was die tradisioneles los voor, maar met behulp van kunsmatige intelligensie het die ander spanne hulle dermate bemagtig dat hulle nie net beter kon “leer” van aarbeie nie, maar hoe die nuut-verworwe kennis gekomplementeer kon word deur digitale vindingrykheid. Aarbeie se groei en groei behoeftes is ontleed en met behulp van kunsmatige intelligensie kon hulle selfs vooruit begin dink oor wat nodig gaan wees in terme van voeding- en waterbehoeftes. 

"Dit het optimalisering bevorder en die statistieke spreek vanself.  Die vier tegnologie spanne het 196% meer aarbeie geproduseer en die opbrengs op kapitaal was 75.5% meer as dié van die tradisionele produseerders. Dié prestasie is die gemiddeld van die vier tegnologie spanne en as die skeptici nog wou dink dat dit die somtotaal van die vier tegnologie spanne is, moet hulle weer dink!  Dié verstommende prestasie is die gevolg van beter data, beter beskikbaarheid van dié data en verfynde ontleding daarvan. Om te weet, moet jy kan meet!

"Wat verder belangrik is, is hoe landbou in China as gevolg hiervan digitaal bemagtig word en daarmee bly hulle die res van die wêreld ‘n kortkop voor. Ander voorbeelde is waar hoenderprodusente aangepas het om te kan voldoen aan die stygende vraag na organiese hoendervleis en die onus op die produsent rus om dit te kan bewys. Sodoende kan die produk gedifferensieerd aangebied word en 'n beter prys behaal word. 

"Elke hoender word toegerus met ‘n klein monitor aan sy been en daardie monitor herlei saakmakende inligting wat verwerk kan word. Die organiese vrylopende hoender moet juis dit kan doen. Dié hoender moet gesond wees en derhalwe is daar metings wat die boer betyds kan waarsku as daar afwykings is wat negatief kan inwerk op die verwagte uitkoms.

Nou met die herskikking van die ekonomiese orde te midde en dalk eendag ná die pandemie, sal dit ‘n ernstige denkfout wees om aan te gaan met besigheid soos gewoonlik. Vir eers is daar belangrike verskuiwings aan die vraagkant. Dit is geen uitgemaakte saak dat die verbuikers jou produk moet koop nie. Al is dit die mooiste os of skaap, gemeet aan jou (dalk uitgediende norme) gaan dit glad nie die verbruiker opgewonde maak nie. Boere sal moet differensieer om ‘n verskil te kan maak. 

"Ten einde landbou se ontwikkelingsrol vlerke te gee, wat die inskakeling van nuweling boere aanbetref, sal die beoogde transformasie, anders gepak moet word. Die ontwikkeling, met die oog op volhoubaarheid, sal nie net op tradisionele vaardigheidoordrag kan steun nie. Daarmee sal die betrokke boere blywend agtergeblewe bly en die impak hiervan sal veel erger wees as wat diskriminasie in die verlede tot gevolg gehad en nog het. 

"Digitale bemagtiging sal ‘n hoër prioriteit moet kry wat tot gevolg sal hê dat die aard en omvang van hoe die vierde industriële revolusie uitgerol word in die landbou, herdink moet word. Met die regte leiding op die gebied, kan die leerkurwe op pad na volhoubaarheid vir nuweling en bestaande boere wat nuut wil dink en doen, verkort word. Die impak hiervan kan verreikende gevolge hê.

"Hiervoor is verbeterde inligting snelweë onontbeerlik. ‘n Meesterplan met meetbare doelwitte en duidelike uitkomste, is nou nodig, maar die wind waai nog spreekwoordelik wes!  Alles moontlik moet ingespan kan word, internetkoppeling, data-beskikbaarheid en -bekostigbaarheid, mobiele internettoegang, ens. As regerings dink dat dié mobiliteit beteken dat verbruikers moet kan bel en teksboodskappe stuur, sit hulle die pot mis. Internetverbindings via 5G-tegnologie is nou net so noodsaaklik soos huishoudelike voedselsekuriteit," sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.