Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 05 Feb 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou vandeesweek se hoofstories op OFM uit...
Sien onderstaande PODCAST
Die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer in die Vrystaat sê vloedskade op provinsiale paaie word op R163 miljoen geraam. Die provinsie ervaar die afgelope twee maande bogemiddelde reënval en dit het veroorsaak dat verskeie huise oorstroom is en paaie en brûe beskadig is. Woordvoerder van die provinsiale departement, Hillary Mophethe, sê verskeie paaie vereis skraapwerk en nuwe gruis. Intussen berig OFM-nuus se Lee Simmons voormalige vroulike boer van die jaar, Mimie Jacobs, sê sommige van die landelike en plaaspaaie is byna ontoeganklik en het 'n negatiewe impak op die landbousektor in die provinsie. Mophethe sê dat padonderhoudspanne regoor die provinsie ontplooi is om hierdie broodnodige herstelwerk te doen.
Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, sê boere moet seker maak dat hulle die regte inligting twee keer per dag kry ten opsigte van die vloei en vlakke van die plaaslike riviere. Dit volg nadat swaar reën onlangs in groot dele van Sentraal Suid-Afrika ervaar is. Jansen maan boere om pomptoerusting van rivierwalle af weg te skuif na hoërliggende gebiede. Hy vra ook die hulp van boere om watervlakke te monitor en dit aan plaaslike strukture te rapporteer.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika, Agbiz, deel dat die jongste data daarop dui dat die 2020/21-produksieseisoen moontlik een van die grootste oeste tot op rekord kan lewer. Die afgelope week het die land se oesskattingskomitee (CEC) sy eerste aanplantingsdata bekend gemaak, wat die totale aanplantings vir somergraan vir 2020/21 op 4,2 miljoen hektaar toon, 6% meer as die vorige seisoen. Hierdie datastel bevat mielies (wit sowel as geel), sojabone, sonneblomsaad, grondbone, sorghum en droëbone. Daar is 'n toename in die meeste gewasse, behalwe sonneblomsaad, waarvan die aanplantings jaar op jaar met 5% afgeneem het tot 473 300 hektaar, wat die kleinste gebied in nege jaar is. Hierdie daling is hoofsaaklik te wyte aan die verskuiwing van sommige hektaar na witmielie-aanplantings in die westelike streke van Suid-Afrika weens gunstige pryse.
EN
Veediefstal het 'n negatiewe impak op die landbousektor. Dit is volgens Aggrey Mahanjana, groep- besturende direkteur van die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusente-organisasie, ook bekend as Nerpo. Mahanjana sê onmiddellik nadat die regering in Maart verlede jaar die eerste Covid-19 inperking toegepas het om die verspreiding van die koronavirus te stop, het boere dwarsdeur die land 'n groot toename in veediefstal aangeteken. Hy sê veral boere in die Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap is geteister deur hierdie misdaad. Hy verduidelik dat daar verskillende faktore is wat veediefstal aanwakker.
OFM-nuus
