Agri Hour
OVK stel nuwe Vesel-hoofbestuurder aan─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 08 Feb 2021
OVK het ‘n nuwe hoofbestuurder vir die afdeling Vesel aangestel.
Jacques le Roux gaan die leisels by OVK se Port Elizabeth-kantoor oorneem.
Le Roux het met OFM-nuus gedeel wat sy planne vir die volgende jaar is, sowel as ‘n oorsig van hoe dit tans in die wolbedryf gaan.
Sien onderstaande PODCAST
Le Roux, wat in die Oos-Kaap groot geword het, was as Hoof Uitvoerende Bestuurder by Cape of Good Hope Wool Combers en daarna ook by Segard Masurel SA se Handelsmaatskappy betrokke.
Hy deel dat sy planne vir vesel by OVK vir die volgende jaar is om wol winsgewend te bemark en so ook ‘n verhouding met produsente te bou. “Ons het die produsente baie nodig… Ons wil graag ‘n verhouding met hulle aangaan… Ek sal graag OVK as ‘n voorkeur-vennoot wil vestig met integritieit by ons produsente,” sê Le Roux.
Wat die effek van Covid-19 op die bedryf betref, sê Le Roux is die hele verbruikersketting tot stilstand gebring.
Hy verduidelik dat omdat meeste Suid-Afrikaners as gevolg van streng inperkingsmaatreëls by die huis moes bly, mense minder klere gekoop het. Daarmee saam moes fabrieke en wolverwerkingsaanlegte ook hulle deure sluit.
Wolpryse het ook verlede jaar 'n laagtepunt bereik.
Le Roux voeg egter by dat die bedryf nou ‘n herstel begin sien soos wolpryse ‘n opwaartse tendens toon.
“Ek het geen twyfel dat die wolprys besig is om te herstel nie. Ek het geen twyfel dat daar ‘n toekoms vir ‘n wolboer is nie…
"My boodskap aan die boere daar buite sal wees – moenie moed opgee nie. Dit wat nou gebeur het, is ‘n eenmalige uitsonderlike gebeurtenis wat [mens] nie kan gebruik om die wolbedryf mee te definieer nie… Die mark gaan herstel en daar gaan altyd vir goeie wol ‘n plek wees,” sê hy bemoedigend.
Intussen sê OVK in ‘n verklaring hulle sien uit om saam met Le Roux hande te vat en sy goeie leierseienskappe en 28 jaar gevestigde werksondervinding toe te pas om OVK Vesel na nuwe hoogtes te neem en markaandeel te vergroot.
OFM-nuus
