On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Boerderygemeenskappe 'moet waaksaam wees'

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 08 Feb 2021

Boerderygemeenskappe 'moet waaksaam wees' | News Article

Boerderygemeenskappe moet hulle waaksaamheid en weerbaarheid verhoog wanneer hulle hul plaaswerf of woning nader.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidskomitee, sê meer as die helfte van aanvalle en moorde word buite wonings gepleeg. 

Sien onderstaande PODCAST

Le Roux sê boeregemeenskappe, insluitend hulle gesinne, moet hulself op ‘n gereelde basis bemagtig deur opleidingskursusse “in huis-en-haard-beskerming, asook gereelde skietoefeninge met gelisensieërde vuurwapens by te woon wat deur private sekuriteitsmaatskappye in landbouvereniging-verband aangebied en deur VL ondersteun word”.

Hy voeg by dat dit ook belangrik is om ‘n goeie verhouding met werkers en die plaaslike polisie te hê.

Verder moet boere ook bedag wees dat aanvallers ook plase onder valse voorwendsels kan besoek waar hulle voorgee om vee te koop of hulle selfs as amptenare van staatsdepartemente voordoen. Le Roux sê in dié verband kan kameranetwerke op plaaspaaie en by wonings voorkomend aangewend word.

Hy versoek ook dat boere moet aansluit by ‘n plaaslike veiligheidstruktuur en –plan. Hy sê voorbeelde hiervan is 'n boerevereniging of om by VL in te skakel.

Le Roux se advies kom nadat VL aangekondig het dat dit statistieke vir plaasaanvalle en -moorde wat in 2020 plaasgevind het, in Maart sal bekendstel.

Daarmee saam het die organisasie in ‘n verkaring bekendgemaak dat landbougemeenskappe in die provinsie bekommerd is oor die styging in aanvalle en moorde wanneer statistieke wat verelde jaar bekendgemaak is, met dié van 2019 vergelyk word.

VL sê die styging is duidelik ten spyte van drie maande se harde inperkings en 'n aandklokreël in 2020 wat deur die regering ingestel is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

“Algehele verhoging van 12.5% (agt aanvalle en een moord) sedert 2019 word aangetoon.

“In die 2020-kalenderjaar was daar 60 plaasaanvalle en 12 moorde, terwyl daar in 2019 'n totaal van 52 plaasaanvalle en 11 moorde was. In die boerderygemeenskappe is 37 dorpe deur die tipe misdaad geraak.

“Kleinhoewes om Bloemfontein en plase is in gebiede van Hobhouse, Marquard, Odendaalsrus, Theunissen en Virginia is as hoëmisdaadgebiede geïdentifiseer. Amper 30% van plaasaanvalle en -moorde het in boerderygemeenskappe van grensdorpe naby die RSA/Lesotho-grens plaasgevind,” sê die organisasie.

Intussen voeg dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, by dat 100 mense slagoffers was van plaasaanvalle, waarvan 13 vermoor is. “Verder is 30 werkers, 23 produsente, 3 opkomende boere, 5 mense woonagtig op plase of kleinhoewes en 10 vrouens of seuns van produsente en/of werkers aangeval en/of vermoor. Dit is kommerwekkend dat kinders in vyf aanvalle ook onder die slagoffers getel het,” sê Buys.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.