Agri Hour
Veediefstal verhoed NK-boer se groei─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 11 Feb 2021
Veediefstal het ‘n Noord-Kaapse boervrou in Upington se groei vir omtrent 10 jaar gekniehalter.
Sariena Vivashe, voormalige kommersiële boervrou van die jaar, deel met OFM-nuus die uiterste maatreëls wat sy getref het om haar diere veilig te hou.
Sien onderstaande PODCAST
Vivishe het in 2012 ‘n stuk grond vanaf die plaaslike regering ontvang en is tot op hede op haar plaas, genaamd Marinda.
Sy sê veediefsal, sowel as die erge droogte in die provinsie, is van die grootste uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Sy deel dat die veediefstal destyds só erg geraak het dat sy net 16 diere oorgehad het. Vivashe het toe uiteindelik besluit om die bietjie diere wat sy het, snags in haar motorhuis toe te sluit om hulle veiligheid te verseker. Die diere het bedags in haar jaard gewei.
Sy sê verder dat misdadigers selfs tot ses diere in een aand gesteel het.
Wat droogtetoestande betref, sê Vivashe het sy die afgelope vyf jaar baie van haar diere ook so verloor, “Ek het 410 [ooie] gehad. Ek het nou net 200 ooie, maar ons het nou in Desember baie goeie reën gehad. Die plaas lyk baie mooi en ek is positief.”
Vivashe moedig boere aan om ten spyte van enige uitdaging moed te hou. “Jy moet net deurdruk. 'n Mens moet glad nie moed verloor nie. Kyk, al is dit hoe donker vir jou – jy gaan daar uitkom,” sluit sy af.
Volgens Netwerk24 word daar elke dag 182 beeste ter waarde van R2,4 miljoen, 282 skape van R621 000 en 138 bokke van R333 000 in Suid-Afrika gesteel.
Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum en senior lektor in penologie aan Unisa, is dié skokkende syfers tydens ’n voorlegging aan 'n werksessie van die inter-ministeriële komitee oor landelike en stedelike veiligheid voorgelê om aan te dui hoe problematies veediefstal is.
Clack sê veediefstal het die afgelope vier jaar met rekordgetalle toegeneem en dit kos boere jaarliks ver meer as ’n miljard rand.
Volgens amptelike syfers het veediefstal in die vier jaar tot 2020 met 16,5% gestyg.
In die 2016-’17-boekjaar is 188 750 stuks vee gesteel en dit het toegeneem tot 219 961 in 2019-’20.
Die totale verliese die afgelope drie boekjare beloop jaarliks tussen R1,1 miljard en R1,2 miljard.
Die waarde van vee wat in die 2019-’20-boekjaar teruggevind is, beloop R99 miljoen.
OFM-nuus
