Agri Hour
Daling in wolmark toegeskryf aan Rand se versterking─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 12 Feb 2021
Die daling in die Suid-Afrikaanse wolmark hierdie week kan grootliks toegeskryf word aan die versterking van die Rand teenoor die vernaamste geldeenhede.
Heinrich Victor, bestuurder van spesiale dienste by OVK, voeg verder by dat vooruitsigte vir die volgende week toon dat met die klein aanbieding, die kompetisie vir die beter Merino-tipe wol behoort te stimuleer.
Sien onderstaande PODCAST
Victor sê met die gesamentlike effek van die Chinese Nuwejaarsvieringe wat na 'n einde toe beweeg, behoort daar 'n moontlike positiewe beweging in die wolmark te wees. Hy sê fynwol bly in sterk aanvraag en daarom is die verwagting dat negatiewe beweging minimaal op hierdie tipes wol behoort te wees.
Victor deel wol wat vandeesweek in die makelaars se pakhuise ontvang is, is 0,8% laer in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in die vorige seisoen. Luidens Victor het volhoubaar gesertifiseerde (RWS) goeie kwaliteit merinowol weer eens goeie aandag geniet op die veiling en tot gesonde kompetisie tussen kopers gelei.
Hy voeg by dat sertifisering ‘n belangrike aspek is en 'n toekomsneiging is wat gekom het om te bly. Skakel gerus met OVK om u by te staan in die sertifiseringsproses.
Die volgende wolveiling is geskeduleer vir 17 Februarie 2021, waar sowat 5 892 bale aangebied sal word.
OFM-nuus
