On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Vrystaatse gemeenskappe ervaar toename in misdaad

───   05:30 Thu, 04 Mar 2021

Vrystaatse gemeenskappe ervaar toename in misdaad | News Article

Die Vrystaat het die hoogste getal plaasaanvalle van al die provinsies gehad, soos wat weerspieël word in die onlangse derde kwartaal se misdaadstatistieke van 2020/21.

Dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Lanbou (VL), sê die syfers toon ‘n toename van 53,85%. 

Sien onderstaande PODCAST

Buys verduidelik dat die Vrystaat 'n toename van 14,1% in moordgevalle gehad het en 39,2% in poging tot moord-gevalle in dieselfde tydperk. Sy sê die syfers vir moord en poging tot moord is die hoogste in 'n tydperk van vyf jaar.

Die organisasie beskou die toename as bewys dat die regering nie die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) behoorlik toerus en beman om misdaad doeltreffend te bekamp nie.

Buys voeg verder by dat ernstige geweldsmisdaad deel vorm van plaasmoorde en -aanvalle wat getoon het dat die Vrystaat die meeste plaasmoorde in 'n tydperk van drie maande - van 1 Oktober tot 31 Desember 2020 – gehad het. Hoë misdaadgebiede rakende plaasaanvalle en -moorde is kleinhoewegebiede in Bloemfontein, Clocolan, Hennenman, Mafube, Odendaalsrus, Viljoenskroon en Virginia.

"Tydens die Covid-19-beperkings, op die beweging van boere wat [ingeperk was], het ons ervaar hoe ernstig die regering regulasies afdwing. Ons weier om te aanvaar dat die golf van misdaad wat gemeenskappe terroriseer, eenvoudig so aanvaar moet word. Die herimplementering van die landelike veiligheidstrategie met dieselfde erns en politieke wil is eenvoudig en kan gedoen word," sê Buys.

Sy sê hoewel die voorkoms van gewapende roof met 12,5% gedaal het, het huis- en sakeroof met onderskeidelik 2,7% en 6,8% gestyg. Dié syfers van ernstige geweldsmisdaad, wat onlangs in sy kwartaallikse vrystelling deur die minister van polisie bekend gemaak is, het 'n direkte impak op alle gemeenskappe en boerderygemeenskappe, sê Buys.

Wat veediefstalstatistieke betref, het die minister daarop gewys dat 74 947 stuks vee in die drie maande tydperk in die land gesteel is, waarvan 44,96% skape was, 23,29% beeste en 21,37% bokke.

Buys sê geen aanduiding is gegee oor die getalle wat per provinsie gesteel is nie, hoewel die Vrystaat die derde hoogste verslagdoening van veediefstalmisdaadsyfers in die land het. Sy sê wat egter kommerwekkend is, is dat benewens die 36 dorpe wat 'n toename in veediefstal van 10% en meer aangedui het, daar nog 25 dorpe is wat dieselfde of meer veediefstalgevalle in 'n tydperk van nege maande van 1 April tot 31 Desember 2020 aangemeld het.

Volgens Buys moet die dorpe saam met die top-10-stasies van verslagdoening ernstige prioriteit en aandag geniet ten opsigte van verhoogde misdaadvoorkomingsaksies en -bedrywighede.

Intussen meen Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, die feit dat die hersiende landelike veiligheidstrategie (RSS) nog nie in boerderygemeenskappe in die Vrystaat ontplooi is nie, pertinent gesien kan word in die verhoogde misdaad wat deur die minister uitgewys is en die landbousektor nadelig raak.

VL versoek die SAPD, tesame met boerderygemeenskappe, om die stellings met gepaardgaande sekuriteitsplanne, verhoogde polisiëringsaksies en die vestiging van taakspanne in landelike gebiede uit te rol ten einde groter sekuriteit in gemeenskappe te vestig.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.