Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── 05:00 Thu, 11 Mar 2021
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Laubscher gesels vandag oor Suid-Afrika se daling op die voedselsekerheidsranglys.
“The Economist publiseer jaarliks insiggewende inligting oor 113 lande se voedselsekuriteit. Die indeks word verwerk aan die hand van inligting wat oor vier hoof faktore ingesamel word, naamlik, bekostigbaarheid, beskikbaarheid, veiligheid en impak op die omgewing. Die indeks meet weliswaar makro-tendense met ongelukkig te min inligting om veranderings op mikrovlak te moniteer. Daarvoor is daar ander statistieke beskikbaar.
“Volgens die jongste verslag, het Suid-Afrika globaal teruggesak, sy leierskap in die Afrika-kontinent afgestaan en is nou vyfde, maar bly die leier ten opsigte van voedselsekuriteit in Sub-Sahara Afrika. Die land lê 69ste uit 113 lande met ‘n totale punt van 57.8.
“Die indeks bied 'n uitstekende perspektief op vele fasette van voedselsekuriteit. Wat bekostigbaarheid aanbetref, meet dit veranderinge ten opsigte van veranderings in die gemiddelde koste van voedsel, die deel van die bevolking wat onder die broodlyn leef, inkomste en lewensstandaard, landbou invoertariewe, die teenwoordigheid van voedsel-hulpprogramme soos die skole se voedingsprogram, toegang tot markte en finansiële dienste.
“Suid-Afrika het hier 69ste gekom, maar die deel van die bevolking wat onder die broodlyn lewe, is ‘n kwelling. Daarmee saam moet die landbou se voorsieningsvermoë beskerm word.
Wat beskikbaarheid aanbetref, is daar rede tot bekommernis. Die grootste bydraende faktore tot die feit dat Suid-Afrika hier die 85ste plek beklee, is wisselvalligheid van produksie. Die beperking kan bepaald teruggevoer word na die droogtes, maar ook die gebrek aan behoorlike beleidsondersteuning.
“Die dubbelslagtigheid van ‘n regering wat onvoldoende steun gee onder moeilike omstandighede, maar andersyds gelate is oor wanneer die landbou wel presteer, is 'n kommer. Ander faktore wat met verloop van tyd ‘n negatiewe inpak kan hê, is landbou-infrastruktuur, soos logistieke uitdagings, waaronder bykans onbegaanbare paaie in die platteland.
“Kosverliese is ook ‘n bekommernis en die jongste inligting dui daarop dat Suid-Afrikaners meer as 134 kg onverbruikte kos weggooi. Dit is verstommend as 'n mens die omvang van toenemende huishoudelike voedselonsekerheid/honger in ag neem. Beleid is nou nodig om balans te bring.
Wat voedselveiligheid en kwaliteit aanbetref, het Suid-Afrika 53ste gekom en word die aspek uitgelig aan ‘n sterk punt. Dis gerusstellend dat Suid-Afrika al hoe beter vaar wat die voedingswaarde van kos aanbetref.
“Ongelukkig het ander navorsing weer gewys op die impak van dieetpatrone wat noodwendig aangepas moet word as gevolg van die sosiaal-maatskaplike ontwrigting van toenemende werkloosheid. Andersyds sukkel Suid-Afrika met die nadele van vetsugtigheid en oorgewig. Dit dui op ander probleme en verg ingrypings om langtermyn en selfs blywende ellendes te beperk.
“Die vierde komponent, waarvolgens die impak van die omgewing op voedselsekuriteit ontleed word, presteer tans goed – Suid-Afrika beklee die 48ste plek. Die situasie sal bepaald versleg as gevolg van die ineenstorting van plaaslike infrastruktuur.
“Grondsekerheid is ‘n ander uitdaging, want dit het ‘n impak op beleggings ten opsigte van volhoubare voedselproduksie. Inmiddels is daar rede tot kommer oor die regering of beleidmakers se begrip van werklike optimale grondgebruik en die mate wat die aanwending van tegnologie nie deur middel van beleid gekomplementeer word nie.
“Die vraag is wat bekommer ontleders oor die huidige toedrag van sake. Die belangrikste uitdaging ten opsigte van voedselsekuriteit is die stabiliteit van voorsiening. Belangrike struktuurveranderings ten opsigte van die vraag en verbruik kan nie praktyk word nie, omdat voorsiening van kos tot op die bord om die verkeerde redes ontwrig word.
“Dit is nie die landbou se skuld nie, want boere het net ten dele aanspreeklikheid. Die landbou se bydrae is te lank as vanselfsprekend aanvaar en beleid is nie behoorlik in sinkronisasie met waarmee boere gekonfronteer word nie. Noudat oorgrens handelspraktyke ná die pandemie herskik, is groter waardering vir dit wat die boer doen, die aangewese,” sluit Laubscher af.
OFM-nuus
