Agri Hour
Geneties-aangepaste manlike diere vrugbaar gemaak─── 05:00 Mon, 15 Mar 2021

Wetenskaplikes het vir die eerste keer daarin geslaag om varke, bokke en beeste te gebruik as lewensvatbare surrogaat manlike diere.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) berig dit is manlike diere wat sperm produseer en slegs die genetiese eienskappe van skenkerdiere dra.
Sien onderstaande PODCAST
Die RPO sê Science Daily berig dié vooruitgang kan die verspreiding van gewenste karaktereienskappe in lewendehawe bespoedig en voedselproduksie vir ‘n groeiende globale bevolking verbeter.
Dit sal telers in afgeleë gebiede ook beter toegang tot genetiese materiaal van spogdiere van ander dele van die wêreld gee en presisie-teling in diere soos bokke, waar dit moeilik is om kunsmatige bevrugting toe te pas, moontlik maak.
Volgens die navorser, Jon Oatley, van die Washington State Universiteit (WSU) se veterinêre kollege, kan dié tegnologie help om die verspeiding van gunstige karaktereienskappe moontlik te maak, terwyl voedselproduksie ook meer doeltreffend sal wees. Hy sê met ‘n genetiese benadering sal minder water, voer en antibiotika deur die diere benodig word.
Die navorsingspan het ‘n hulpmiddel om gene aan te pas, die CRISPR-Cas9, gebruik om ‘n geen uit te sonder wat ‘n spesifieke rol in manlike vrugbaarheid in die dier se embrios speel en wat gebruik kan word om surrogaat manlike diere te teel.
Die manlike diere, wat steriel gebore is, het begin om sperm te produseer nadat navorsers stamselle van skenkerdiere in hul testes ingeplant het.
Die sperms wat die surrogaat manlike diere geproduseer het, het net die genetiese materiaal van die geselekteerde skenkerdiere bevat. Die proses wat in die navorsingstudie aangewend is, poog om aanpassings binne ‘n dierspesie aan te bring wat natuurlik voorkom, soos onvrugbaarheid.
Die navorsers het CRISPR-Cas9 gebruik om muise, varke, bokke en beeste te produseer wat ‘n geen, NANOS2, ontbreek wat spesifiek met manlike vrugbaarheid verband hou.
Die manlike diere het steriel, maar andersins gesond grootgeword en was daartoe in staat om sperms te produseer nadat hulle oorgeplante sperm-produserende stamselle van ander diere ontvang het.
Daar is bevestig dat die diere aktiewe skenkersperms het. Die surrogaat-muise het gesonde nageslag geproduseer wat die gene van die skenkermuise gedra het.
Die groter diere is nog nie geteel nie, aangesien die proses tans verfyn word.