Agri Hour
Kursus ontwikkel om herfskommandowurms te bekamp─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 17 Mar 2021
‘n Aanlyn-kursus is ontwikkel om herfskommandowurms doeltreffend hok te slaan met geïntegreerde plaagbestryding en goeie landboupraktyke.
OFM-nuus se Elsabé Richard het met Prof. Johnnie van den Berg van die Noordwes-Universiteit hieroor gesels…
Sien onderstaande PODCAST
Van den Berg verduidelik dat herfskommandowurms ‘n uitheemse insekplaag is wat sowat vier jaar gelede in Afrika aangekom het wat ook Suid-Afrika geïnfesteer het. Verder is die herfskommandowurms ‘n plaag wat die wêreldrekord hou vir die tempo waarteen hy versprei. Dit, omdat die plaag oor die laaste twee jaar versprei het na Indië, China, die verre Ooste en nou ook Australië.
Herfskommandowurms is ‘n plaag wat hoofsaaklik sorgum, mielies en rys besmet. Van den Berg verduidelik verder dat die plaag ‘n mot is wat eiers lê op mielies en dan broei die larwes uit. Hy sê dit het ‘n baie vinnige lewenstempo en gedurende die eerste twee weke vreet hierdie larwes verskriklik aan, onder meer, die mielieblare - afhangende waar dit infesteer.
Larwes kan uitgeken word deur in die plant se kelk te kyk. Dit het vier simmetriese donker bruin kolle “op amper die laaste segment van die groot larwe, en dan ‘n omgekeerde wit Y-vorm op die voorkop.” Daarmee saam sê Van den Berg is die mot egter moeilik om uit te ken – maar dat dit gemonitor kan word.
Daar is ‘n moontlikheid dat hierdie herfskommandowurms groot skade op plase kan veroorsaak. In Suid-Afrika is die skade gelokaliseerd. “Hierdie motte beweeg snags honderde kilometer, dan sak hulle uit op ‘n plaas. Die omringende boere [mag dalk] geen skade hê nie, maar een of twee groot lande sal baie skade kry,” sê hy verder.
‘n Oesverlies van 40% is al aangemeld, sê Van den Berg.
Verder kan hierdie plae nie uitgewis word nie, maar maatreëls wat boere kan toepas, is om gereeld lande te inspekteer en te kyk vir skade - soos onder meer gate in blare – en dan moet daar verantwoordelike bespuiting plaasvind.
Die kursus
Van den Berg verduidelik dat hy en ‘n kollega, in samewerking met Villa Crop Science en Land O’Lakes, hierdie aanlyn kursus ontwikkel het. Hierdie kursus is gratis beskikbaar op die Agri-Training webwerf. Boere kan aanlyn op hierdie webwerf registreer en sal toegang kry tot videos en verskillende onderwerpe, van biologie en identifikasie tot hoe om insekdoders op ‘n veilige manier te gebruik.
Kry toegang tot die webwerf hier: https://agritraining.co.za/
OFM-nuus
