On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Boere en ander sluit paaie na Ficksburg

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 18 Mar 2021

Boere en ander sluit paaie na Ficksburg | News Article
Foto: Verskaf

Die gemeenskap van Ficksburg in die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat het betoog teen die toestand van teer- en grondpaaie.

Volgens Friedl von Maltitz, ‘n boer in dié streek, is die toestand van paaie haglik en hou dit ‘n risiko vir padgebruikers in. 

Sien onderstaande PODCAST

Hy sê inwoners van Ficksburg betoog teen die toestand van die R26-pad wat strek van Ladybrand na onder meer Bethlehem. Hy voeg by dat selfs grondpaaie in die streek ook dringende aandag benodig.

Von Maltitz, wat ook deel is van die plaaslike landbouvereniging, sê die toestand van paaie verhinder produsente en ander besighede om hulle produkte en goedere doeltreffend te vervoer. 

Hy sê die paaie is nie begaanbaar vir swaar voertuie nie en boere sal nie graan na silo’s kan vervoer nie. “Daar is mense wat daagliks op hierdie paaie papwiele kry… en ongelukke wat veroorsaak word want almal swaai uit vir al die slaggate. Dis ‘n uiterse gevaarlike situasie," sê Von Maltitz.

Daar is sowat twee jaar gelede ‘n belofte deur die plaaslike regering gemaak dat paaie in dié streek herstel sal word, maar die belofte is nie nagekom nie, sê hy. 

Weens geen pogings van die provinsiale regering om paaie in die streek te herstel nie, het die gemeenskap sowat twee weke gelede ‘n brief aan Premier Sisi Ntombela gestuur en gevra dat sy binne sewe dae in kontak moet tree met inwoners om oor die paaie-situasie in gesprek te tree. Dit, aangesien plaaslike regeringsamptenare aanvoer dat daar geen fondse is om paaie te herstel nie.

OFM-nuus het intussen berig dat gedetailleerde vrae aan Ntombela se kantoor gestuur is. Haar woordvoerder, Sello Pietersen, het bevestig dat sy sal reageer. "Die premier het haar kommer uitgespreek oor die situasie en gaan die bekommernisse van die inwoners ondersoek, asook ander uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar," het hy gesê.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.